Tuinroete vloede en die lesse geleer

Tuinroete vloede en die lesse geleer

Die tuinroete vloede het veroorsaak dat die water toevoer ingegee het. Dis nogals ironies. Soveel water het in 24 uur neergestort en tog is daar geen water in die krane nie.

Gister het almal verstom toegekyk toe die sluise van die hemel oopgetrek is en die water vrylik en in sommige gevalle verwoestend neergestort het. Dit was omtrent ‘n gesig om te aanskou. En toe nog ‘n storm: Die twee grootste waterpype het meegegee in die frats storm. Aanvanklik het ons gedink dat ons dalk ‘n uur of so sonder water sou wees. Verkeerd. Die water toevoer is 22 uur later steeds nog nie herstel nie. Dit het gister heeldag gereën wat die herstelwerk vertraag het en dan wag hulle nog vir parte en die elektrisiteit en internet verbindings is ook beskadig. Omtrent ‘n ramp. Genade tog. Ek het darem ‘n 5 liter kan water gehad wat my deur die dag gedra het.

Dinsdag oggend 23 November

Gisteraand het ek gaan slaap en gedink: Wel teen more oggend behoort als uitgesort te wees. Verkeerd. Weereens. Steeds geen water. My hond Millie het besluit haar toilet buite is te nat en sy besluit toe om vir haar ‘n toilet binne te maak. Nog ‘n ramp en geen water om dit skoon te maak nie. Vroegoggend kom die boodskap van die Munisipaliteit deur: Hulle stuur water trokke in die woongebiede in. Die naaste ene aan my is by die Kafee op die hoek. Nog reën word voorspel. Tyd om te gaan water haal.

Tyd om nederig te word

Twee 5 liter kanne in die hand pak ek die tog aan na die water trok. Ek is 5de in die ry. ‘n Senior burger en sy helper maak die kanne vol. Hy is ‘n boer van die omgewing wat deur die Munisipaliteit gevra is om te help. Dit is nou my beurt. Vriendelike man. Hy vertel my hoe georganiseerd ons mede burgers in die agtergeblewe gemeenskappe is wat betref water. Hy vertel hoe ons blekes absoluut afhanklik is van die water trokke terwyl die ander gemeenskappe gerat is vir elke gebeurlikheid en hoe baie ons van hulle kan leer. Hulle het elke beskikbare pot, pan en houer in die reën volgemaak. Baie van hulle het hulle eie water sisteme self gemaak en aangelê. Verstommend.

Tuinroete vloede en die lesse geleer

Terwyl ek terug ry huis toe besef ek. Dis wat ek moet doen. So ver as moontlik onafhanklik wees. Verbou my eie vrugte en groente. Kry ‘n opgaartenk vir reënwater. Gaslampe. Leef eenvoudig. Ons is hopeloos te afhanklik van diens verskaffers vir elke aspek van ons lewens.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.