Oom Seerower
Oom Seerower het in ‘n huis aan die Suidkus gebly. Ek het nog nooit in my lewe ‘n regte seerower met my eie twee oë gesien nie, dus moes Oom Seerower my kinder fantasie bevredig.
OOM SEEROWER
Dit was nie sy regte naam nie en ek wil nou nie in die moeilikheid kom met sy familie nie (hulle weet nie dat ek aan hom dink as ‘n seerower nie, so kom ons sê maar sy naam was Hendrik. Oom Hendrik het nie soos ander Ooms gelyk nie. Hy was bruin gebrand, en het vele tatoo’s op sy lyf gehad. Vandaar die bynaam.
HY WAS NIE JOU GEWONE OOM NIE
Hy en sy familie het in dieselfde dorp as ons gewoon. My Pa en hy was treindrywers en ons was huisvriende met hulle. Beide my Pa en Oom Hendrik het ander belangstellings gehad buiten die treine. My Pa het na werk Volkspele gedoen en die Oom het visgevang en gehou van tatoo’s. Hy het nie oorringe gedra nie en het ook nie ‘n pappegaai gehad nie.
TUSSEN TREINE
Ek het altyd gedink almal se Pa’s het met die treine gewerk seker maar omdat ons meestal met treindrywers, stokers en loco’s te doen gehad het, maar wag ek dwaal nou bietjie van my storie af.
LEWE BY DIE SEE
Oom Seerower en sy gesin het loopafstand van die see afgebly en het baie visgevang veral na sy aftrede. Ek kon my verkyk aan die Oom se vissersklere, die mandjies vol vars vis en die Oom se tatoo’s waarvan ene ‘n boot anker was op sy voorarm. Behalwe dat ek my kon verkyk aan Natal se eie seerower Oom, kon ek ook nie genoeg kry van sy visvang en see stories nie. Ek het dikwels in die kombuis gesit en luister terwyl hy die vis verwerk het.
GOEIE SEEROWER
Oom Hendrik was ‘n goeie mens en baie vriendelik. Hy mag soos ‘n seerower gelyk het, maar hy het nie skepe gekaap en besteel en vrouens ontvoer nie. Hy het ook nie gevloek en mense geslaan nie. Ek was mal oor Oom Hendrik, hy het my verbeelding vlerke gegee en waneer ek aan hom dink is dit met deernis en liefde. Na my Pa se dood toe ek 5 jaar oud was, was Oom Hendrik my fantasie Pa vêr op die diep blou see.
DIE SEE STORIE
Ek was nog maar klein, ongeveer 9 jaar oud. Dit was na my Pa se dood en ons het by Oom Hendrik hulle gekuier vir die aand. Hy was uit op die see en ons het radio storie geluister. Ek kan nie meer die storie se naam onthou nie, maar ek weet dit het oor die see en vissermanne gegaan waarvan ene nie weer huis toe kom nie. Daar in die Oom se kombuis het ek die woorde gehoor wat vir altyd vir my iets sou beteken en my steeds aan Oom Hendrik laat dink.
Wat die see gee moet jy in liefde ontvang, maar wat die see neem moet jy gewilliglik weggee.
Nee, Oom Hendrik is nie tydens ‘n visvang ekspedisie in die see dood nie, sy hart wou net nie meer klop nie.
FANTASIE HELD
Ek het nooit vir Oom Hendrik vertel dat hy my laat dink het aan ‘n seerower nie en ek weet ook nie hoekom ek aan hom die titel gegee het nie. Een ding is egter seker – almal hou van fantasie helde en ek het my eie ene geskep. Oom Seerower ek hoop jy vang lekker vis daarbo.
GESELS SAAM
Gaan na my posbus blad en
- Stuur ‘n e-pos
- Los ‘n boodskap
- Registreer vir my nuusbrief
- Kuier sommer verder by Let’s make tea
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you