Kinders speel wat hulle ervaar

Kinders speel wat hulle ervaar

Kinders speel wat hulle ervaar in hulle lewe. Huishoudelike geweld, ongelukke, dood en selfs oorlog. Dikwels is mense geskok waneer kinders se speelwyse traumatiese gebeure weerspieël. Soos onlangs in ‘n video insetsel deur Sky news getiteld:

Ukraine War: Children showing bravery amongst the chaos

Jong kinders loop met speelgoed gewere en boots die gebeure in die oorlog na. Skokkend soos die video beelde is, is dit nie abnormaal vir kinders om trauma te verwerk deur dit te speel nie. Die enigste gevaar hier is dat verkeerde mense dit kan sien en die kinders kan skade aandoen. Die oorlog is steeds aan die gang en die vyand is orals.

Kinders speel wat hulle ervaar

Na my Pa se dood het ek en my suster 5 en 8 onderskeidelik van graf tot graf geloop asof ons in ‘n stoet loop. Ons het by elke nuwe graf gebid en blomme neergesit. Na my man se dood het my twee kinders nog verder gegaan. Hannes is in ‘n motorongeluk dood. Die kinders het poppe op hulle skopfietse gesit en teen mekaar gebots. Daarna is gate gegrawe en die poppe begrawe met ween liedere en blomme. Saans is die poppe uitgegrawe en skoongemaak – reg vir die volgende begrafnis. Dit het meer as 2 weke so aangegaan totdat hulle in plaas van poppe mekaar begrawe het.

Dit is ontstellend

Kinders wat traumatiese gebeure uitspeel is nie altyd ‘n mooi gesig nie. Dit het my diep ontstel toe ek 2 lewende kinders uit grafte in die agterplaas moes grawe. Ek het om raad by die Polisie Kapelaan gaan aanklop. Hy was geensins geskok nie en het my verseker dat dit normaal is. Hy het my egter verwys na ‘n speel terapeut wat my leiding gegee het oor hoe om my kinders te help. Onder haar leiding kon ek my kinders lei na meer gesonde verwerking spel.

Terug na die oorlog kinders

Ek kan myself nie indink hoe dit moet wees tydens ‘n oorlog nie. Die trauma hou net nie op nie. Kinders is soos sponse wat alles indrink. Dikwels is Pa en Oupa op die voorste linies terwyl die vrouens geweer in die hand die huis en kinders bewaak. Oorlog is deel van die kinders se lewens dag en nag. Ek kan net bid dat hierdie oorloggeteisterde kinders heel anderkant sal uitkom.

2 Comments

  1. scrapydo2.wordpress.com

    27 June 2022 at 10:09 am

    Ek het jare skool gehou en baie kinderspel belewe wat beslis uitbeeldings was van wat werklik om hul aangaan. Selfs tot onlangs nog met my voorskool en naskoolsorg het daar spel opgeduik wat duidelik gewys het hoe daar by huis gedoen word as hul tuis is. Baie interessant en ook met tye baie hartseer as mens dit so stilletjies gade slaan.

    1. Amandaskrywer(Aduppie)

      6 July 2022 at 6:52 pm

      Dit kan ander ontstel en ook as waarskuwing dien dat kinders wel uiting gee aan hulle gevoelens – goed of sleg. Ek kan net dink wat jy as onderwyseres alles moes aanskou. Onderwysers is volgens my ook sielkundiges.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.