Geure kleure smake en Nataniel

teetyd kuiers

Welkom by Teetyd kuiers. Ontspan lekker met ‘n koppie tee en gesels saam

Geure kleure  smake en Nataniël. Gooi alles bymekaar en jy het ’n volmaakte resep. Ek kyk graag sy reekse op Showmax. My gunstelinge is die Edik van Nantes reekse met die pragtige Franse platteland as agtergrond. Die snaakse sêgoed gekombineer met die resepte en natuurlik Nataniël homself maak vir ontspanne en aangename kykgenot.

Geure trek mens aan of stoot jou af

In die dae toe ek as eiendomsagent gewerk het, is daar vir ons wenke gegee oor hoe om kliënte nader te trek. Een van die wenke was gebraaide uie. Blykbaar is die geur van gebraaide uie onweerstaanbaar. Ons moes dan die eienaar van die huis wat te koop was aanmoedig om uie te braai wanneer ’n voorkomende koper na die huis kom kyk. Geure werk ook goed met my kleinkinders. “Wat ruik so lekker Ouma?” en dan bestorm hulle die kombuis om te sien wat  Ouma in die oond het.

Al die kleure van die reënboog

geure kleure smake

My kleindogter hou van daardie gekleurde kolwyntjies wat so aanloklik lyk in die Supermark. “Ouma ek soek die pienke asseblief”. Eetgoed sal darem baie oninteressant wees en lyk as alles dieselfde kleur is. Ek het ’n Italiaanse kook klas bygewoon en een van die Chefs het gesê “Mense eet met hulle oë nog voordat hulle die eerste hap vat so maak seker dat daar verskillende kleure op die bord is”

Smake is soos geskiedenis

Ons onthou hoe iets gesmaak het en die smaak bepaal of ons weer daarvan sal eet al dan nie. Ek was een keer by ’n funksie waar druiwe in bakkies voorgesit is. Groenes en Swartes. Ek het een van elkeen so heel in my mond gedruk en begin kou en tot my skok besef dat dit nie druiwe was nie, maar olywe.

Geure kleure smake en Nataniël

In Nataniël se programme gebruik hy ook verskillende geure, kleure en smake om ons aan te moedig om self kos te maak en nuwe dinge te probeer. Soos hy geniet ek dit ook om nuwe kombinasies te probeer en my kleinkinders is dikwels aan die ontvangkant van daardie probeerslae. Ek vra hulle dan om ’n punt uit tien te gee en dit bepaal dikwels of dit by my ander resepte gevoeg word.

Verskoon my dis teetyd en tyd om die worsie pies uit die oond te haal. Lekker eet.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.