Hang tot jy dood is

Hang tot jy dood is
“Bring terug die doodstraf” Dis al wat gaan help om misdaad onder beheer te kry!” gil die massas histeries met elke berig oor nog ’n moord in Suid Afrika.
Die doodstraf in Suid-Afrika het ’n lang aanloop. Vuurpeloton teregstellings aan die Kaap is reeds in 1739 opgeteken. Die gebruik het voortgeduur totdat die doodstraf in 1910 amptelik ingestel is. Daar is besluit dat hang meer menslik as skiet was. Die woorde “Jy sal hang aan jou nek tot jy dood is” het die dood van meer as 4200 Suid-Afrikaners van 1910 tot 1989 aangekondig. Die terdoodveroordeeldes is dan na die selle geneem waar hulle moes wag op hulle dag van afrekening. ’n Laaste ete, die groet van familie en dan die laaste wandeling na die galgkamer waar die laksman die doodsvonnis voltrek het.

Kontroversie
Suid-Afrika se doodstraf het die wind van voorgekry nadat daar in die apartheidsjare ’n rekord getal doodsvonnisse opgelê was. Volgens statistieke het ’n totaal van 285 mense in 1986 en 1987 aan die galg gesterf waarvan verskeie anderskleuriges asook teenstanders van die regering. Die doodstraf is op 6 Junie 1995 amptelik geskrap en ongrondwetlik verklaar. Sedertdien probeer baie weer om die doodstraf heringestel te kry – oortuig daarvan dat die doodstraf misdadigers in hulle misdaad spore sal stuit.
Is die doodstraf ‘n afskrik middel?
Wêreldwyd is die doodstraf reeds geskrap met Amerika die enigste Westerse land wat steeds die doodstraf toepas in 24 van die 50 state. Teen 2020 het DNA toetse bewys dat ten minste 20 mense onskuldig die doodsvonnis opgelê is. Weens die doodstraf is Amerika dan seker vry van ernstige misdaad.? Beslis nie. Benewens mes aanvalle en verkragtings het Amerika ook die hoogste getal massa skietvoorvalle ter wêreld met n skietvoorval elke 64 dae, meestal in skole. Tussen 1999 en 2014 is 185,718 mense met vuurwapens in Amerika vermoor.
Studies oor die doodstraf
Verskeie studies oor die doodstraf is met die jare gedoen. In Suid-Afrika het Pondering Panda, ’n verbruikersnavorsingsmaatskappy in ’n opname onder gewone mense 18 tot 34 bevind dat 76% voel dat die doodstraf heringestel moet word. Altesame 80% van die 6900 mense wat aan die opname deelgeneem het glo dat die doodstraf mense sal afskrik om misdade te pleeg.
’n Opname onder kriminoloë en ander regslui is deur die Universiteit van Colorado gedoen. Professor Michael Radelet en Traci Lacock het die opname gedoen om die effektiwiteit van die doodstraf om misdaad te bestry te bepaal. ’n Oorweldigende 88% het aangedui dat dit nie-effektief was nie, 5% het gevoel dit was effektief en die res het nie ’n opinie daaroor gehad nie.
Wat van die onskuldiges?
In die sogenaamde Coligny sonneblom saak is Pieter Doorewaard en Phillip Schutte tot onderskeidelik 18 en 23 jaar gevonnis vir die dood van Matlhomola Mosweu. Die saak is voorgehou as moord met ’n rassistiese botoon. Binne ’n jaar van die vonnis is Pieter en Phillip tydens ’n appèlsaak van alle blaam onthef en vrygespreek nadat die hoofgetuie erken het dat hy gelieg het oor die sogenaamde moord. Indien die doodstraf hier ter sprake was, sou Pieter en Phillip verseker die trappe na die galgkamer geklim het waar die laksman gereed staan om die hefboom te trek.
Emosies vs Feite
Emosies oor die hoë vlak van misdaad in Suid Afrika is verstaanbaar. Die effektiwiteit van die doodstraf word egter gemeet aan feite en nie gevoelens nie.
Benewens die feite aangaande die effektiwiteit van die doodstraf is daar ook die moontlikheid dat mag misbruik kan word en onskuldige mense met hulle lewens kan boet.
Alternatief tot die doodstraf
Tronke moet nie te gemaklik moet wees nie en in plaas van ledig rondsit moet die gewelddadige misdadigers onder in myne werk, rioolstelsels skoonmaak en in lykshuise diens verrig. Ontneem die misdadiger van sy vryheid en laat hom lewenslank boet vir sy misdade sonder parool.
Reis verder
- Die Naguil is ‘n gratis aanlyn koerant wat maandeliks op die webblad verskyn.
- Kosreise met resepte en kos stories
- Stories – reis stories, trein stories, kos stories, polisie stories, kombuis stories
- Bou jou eie webblad met WordPress
- We also publish original articles, stories and opinions in English
Discover more from Amanda Skrywer
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
Bitha
5 March 2025 at 9:38 amInteresante en insiggewende navorsing wat jy hierr gedoen heet.
Amandaskrywer
5 March 2025 at 2:35 pmBaie dankie. Bly jy het dit geniet