Corona dagboek week 11

Corona dagboek week 11: Sondag 24 Mei 2020 tot Saterdag 30 Junie 2020
Sondag 24 Mei 2020
S.A. Infeksies: 22 583 Sterftes: 429
Sondae is gewoonlik ‘n lui dag vir my. Vandag het ek my kos alles in die slow cooker gegooi en na 4 ure oopgemaak. Als was heerlik sag en smaaklik. Ek sien ons gaan nou 2 dae van reën binne nl. Maandag en Dinsdag. Ek sien nogal uit daarna. Dis net te lekker wanneer die reën my aan die slaap sus.
Lockdown 3
Mnr. Rhamaphosa het vanaand die aankondiging gemaak dat ons nou na fase 3 van lockdown beweeg en ek hoop regtig almal sal ons nuwe vryhede verantwoordelik gebruik. Dis werklik nou in ons hande.
DANKBAAR
- Slow cooker kos
- ‘n Warm water sak
- Vroegoggend stap saam met my ou maat Millie
Maandag 25 Mei 2020
S.A. Infeksies: 23 615 Sterftes: 481
My kop werk weer oortyd want die tyd het aangebreek om my boekrakke te begin bou en mure te verf in my voorkamer. Dit is die laaste groot projek tydens lockdown en dit gaan ietwat tyd neem en ‘n paar rand kos. Ek is egter opgewonde om die eindresultaat te sien.
Die winter kruip nader en alhoewel die dag sonnig begin het,het die weer teen die middag gedraai en het die wind begin waai. Ek het sommer ook my warm watersak uitgehaal. Dis vir my tog te lekker om saans in my bed te klim met die sak by my voete.
DANKBAAR
- Handskoene teen die koue
- Fase 3 lockdown
- My eie huis – wat ‘n voorreg
Dinsdag 26 Mei 2020
S.A. Infeksies: 24 264 Sterftes: 529
Dit reën tog te lekker hier in die Tuinroete. Ek en Millie sit onder ‘n kombers met ‘n warm water sak in die beskerming van my kamer en warm sjokolade drink. Ek kan nie eintlik verstaan hoe mense kan sê dat hulle verveeld is in hierdie tyd nie. Die aanlyn geleenthede het ontplof, kunstenaars tree op in konserte vanuit hulle sitkamers, onderrig word aanlyn gegee. Ek het vandag juis ‘n Facebook Live kuier van skrywer Didi Potgieter bygewoon. Wat ‘n lekker kuier!
DANKBAAR
- So dankbaar vir die Internet en die geleenthede wat dit bied.
- Die reën daarbuite
- Ek en Millie wat mekaar warm hou onder die komberse. My getroue vriendin
Woensdag 27 Mei 2020
S.A. Infeksies: 25 937 Sterftes: 552
My voorhuis lyk vreeslik. Ek het basies als teen een muur geskuif sodat ek kan begin boekrakke bou. My eetkamertafel gaan as werkbank dien. Hy is lekker groot en breed en kan die gewig dra. Die inperkingstyd is die regte tyd vir so ‘n projek aangesien niemand mag kom kuier nie so niemand gaan my huis in so ‘n toestand sien nie. Dit behoort my nie meer as so 3 weke te neem om die drie boekrakke te bou en teen die muur vas te sit nie. Dis tyd.
Lekker eet
Ek het die heerlikste groot mushrooms in die oond gebak met garlic en maalvleis en dit was lekker verby.
DANKBAAR
- Dankbaar dat ek DIY ontdek het – dis opbouend en kos minder
- Room vir my hande
- Serpe teen die koue
Donderdag 28 Mei 2020
S.A. Infeksies: 27404 Sterftes: 577
So mag die kerke nou weer oopmaak en ek weet nie so mooi van die kerke en die skole nie. Dit voel my die risiko is te hoog vir die verspreiding van die virus. Dit sal vir my meer sin maak om die kerk byeenkomste steeds te verbied maar die maatskaplike deel van die kerke toe te laat. Dit daar gelaat – Vandag was tuisgemaakte pizza op die spyskaart en ek was bietjie oorywerig met die garlic. Gelukkig is dit net ek en Millie…
DANKBAAR
- Voëltjies in my tuin
- Ek is dankbaar dat ek nog ‘n inkomste het.
- My skoot rekenaar
Vrydag 29 Mei 2020
S.A. Infeksies: Sterftes:
Dit reën weer in George en teen 11 uur vanoggend het ek besluit om my werksklere uit te trek en terug na my kamer toe te vertrek. Ek het toe eerder aandag aan my skryfwerk gegee vanuit die warmte van my bed terwyl Millie langs my lê en die reën teen my kamervenster afloop. Dit lyk asof die weer more bietjie gaan opklaar met ‘n lieflike son.
DANKBAAR
- Gaar vooraf bereide huis kos.
- Reën en nogmaals reën
- My lang swart jas wat my beskerm teen die koue en reën tydens my staptogte
Saterdag 30 Mei 2020
S.A. Infeksies: 30 967 Sterftes: 643
Nog ‘n dag van harde hande arbeid. Ek het my kombuis se toonbanke ‘n vars laag verf en varnish gegee en nou lyk dit weer spik splinternuut. Verder het ek my my losstaande boekrak en ander klein goedjies reggemaak en geverf en sommer ook ‘n tafel gebou. Teen 5 nm was ek pootuit. ‘n Lekker warm bad en ‘n bord kos het my gou weer soos ‘n mens laat voel. Hoe gaan dit daar by julle?
DANKBAAR
- So dankbaar vir al die herstelwerk en verbeteringe wat ek vandag kon klaar kry.
- ‘n Warm bad na ‘n harde dag se werk.
- Dankbaar dat ek steeds gefokus is in hierdie COVID 19 tyd
GESELS SAAM
- Gaan na my Posbus bladsy
- Los ‘n boodskap
- Stuur ‘n e-pos
- Teken in op my Nuusbrief en bly op datum
- Besoek my Engelse webblad Let’s make tea vir nog meer artikels.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you