Onsigbaar
Onsigbaar
Teetyd kuiers is ‘n maandelikse gesels rubriek geskryf deur Amanda Spies du Plessis
Teetyd kuiers met Amanda
Onsigbaar. In die begin dae van Televisie in Suid-Afrika was daar ’n oorgeklankte reeks met die naam Man van Intersek (Gemini man). Die geheime agent het ’n knoppie op sy horlosie gedruk en dan was hy vir ’n tyd lank onsigbaar. Dit was ’n fantasie tipe reeks en ek het gewonder hoe dit sou wees indien mens werklik nie raakgesien kon word nie.
En toe word ek onsigbaar
Ek het in die ry gestaan in ’n winkel by die inligting toonbank. Die klerk het almal rondom my gehelp en selfs nadat ek gesê het “Verskoon my” is daar nog nie aandag aan my klagte/versoek gegee nie. Dit was egter nie die laaste keer wat ek nie raakgesien is nie. Een keer het ek my bloedig vererg nadat ek reeds 45min in die ry gestaan het vir ’n roomys. “Jy help almal rondom my, ek wag al lank!” “Jammer, ek het jou nie raakgesien nie” Haloooo! Het ek so by myself gedink. Ek is duidelik sigbaar – ’n hele 150kg sigbaar.
Ek word weer sigbaar
Daar was ’n ander storie waaroor my kinders gaande was: Barones van Gees aka Die Gees (Der Hausgeist) Dit was ’n dartelende blondekop wat ook in die deurskynende, verdwyn wêreld geleef het.
Dertien jaar gelede het ek ’n sluk probleem ontwikkel en het ek in ’n kwessie van ’n jaar 70kg verloor en daarmee saam weer sigbaar geword.
Soms wil ek onsigbaar wees en sou ek daarvan hou om net te verdwyn in die massas en ’n knoppie te druk wanneer ek wil terugkeer. Dink net hoe interessant die lewe sou wees wanneer jy met die druk van ’n knoppie deurskynend kon word. Wat sou egter gebeur indien jy die horlosie verloor of die battery pap raak. O wee! Dit sal mos ’n ramp van epidermiese proporsies word soos Paula altyd gesê het.
Tyd vir tee en koffie muffins
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you