Naguil koerant 7 van 2023

naguil koerant

Die Naguil koerant is ‘n aanlyn koerant wat weekliks op die webblad verskyn. Kliek op die blou skakel in die storie en dit sal jou neem na die oorspronklike storie.

Van die Redaktrise

Dis sowaar al weer September. Na ’n ysige koue winter wink die son en warmer weer vir ons. Koue etes, braaivleis  en kuier. Ek sien uit daarna om meer tyd buite te spandeer en al die nuwe blare en blomme te verwelkom en vrugte van my bome te eet.

Dis in mooie kontras met die siektes, sterftes en swaarkry rondom ons. Die een kanselleer die ander uit soos ’n weegskaal. Daar is altyd hoop en lig aan die ander kant van die tonnel soos my Ouma altyd gesê het. Dis wonderlik hoedat sonnige weer ’n mens se gemoed kan lig en ’n nuwe blom vreugde kan verskaf.

Paula is hierdie maand in die skrywer kollig terwyl Mike Heine se ou Kaapse boeke afgestof word. Daar is stories oor ’n baie aantreklike Polisieman, WW2 tekens in Londen en die 90 jarige viering van die Bybel in Afrikaans.

Geniet hierdie Naguil koerant 7 van 2023.

Vier die lente en al die mooi wat daarmee saamgaan.

Groetnis

Amanda

Skrywer kollig

Paula vertel  oor hoe dit is om in Engels te skryf: “Ek het Engels as skryftaal laat vaar, omdat my styl daardeur afgestomp is. Om in Afrikaans te dink en jou gedagtes dan in Engels te formuleer, doen geeneen se styl goed nie. Wanneer ek in Afrikaans skrywe, vloei my gedagtes makliker.” (Bron onbekend, 1954)

Paula 1907  tot 1996 se regte naam was Johanna Margaretha Sauerman. Baie skrywers het onder skuilname geskryf om hulle privaatheid te beskerm. Sy is op Albertinia gebore en was ’n sieklike kind wat verskeie operasies ondergaan het. Weens haar swak gesondheid kon sy nie universiteit bywoon nie en het ’n korrespondensiekursus in joernalistiek gedoen wat haar gehelp het om haar voet in die deur te kry.

“Die groot lekkerte van skryf was vir my om al die dinge binne-in my in ’n kanaal te gooi en vir ander weer te gee.” (Beeld, 17 November 1982)

Ou boek kollig

Mijnheer Jakkals geskryf deur Mike Heine is een van vele ou Kaapse verhale uit hierdie skrywer se pen. Daar was ’n tyd wat hierdie tipe verhale groot aanhang geniet het. Dit was ’n tyd van swaardgevegte en Franse edelmanne en natuurlik beeldskone meisies.

Alhoewel hierdie ’n fiksie boek is, lees dit lekker en gemaklik. Selfs 50 jaar nadat dit die eerste keer verskyn het. Jean is die Fransman aan die Kaap en Noeline is sy Kaapse stiefsuster en sy is verlief op haar nie-biologiese broer. Vol liefde, intrige en swaardgevegte.

Stories oor plekke en sy mense

  • Die Afrikaanse Bybel is 90 jaar oud. Dis ondenkbaar dat die Bybel nie altyd in Afrikaans beskikbaar was nie. Ons Afrikaners  het ’n ryk Christelike geskiedenis en in hierdie artikel word die geskiedenis van die Bybel in Afrikaans vertel.
  • ’n Polisieman in Vosloorus het ’n vrou na die vlugsout laat gryp soos wat sy droom oor die mooie man wie se klere so netjies sit.
  • Nou toe nou! ’n Kat met die naam Kit-Kat het ’n hoogspring rekord vir katte opgestel en homself tot binne die Guiness boek van rekords gespring.
  • In Londen is nog verskeie WW2 tekens teen mure en geboue wat behoue gebly het na Duitsland se aanval op Londen. Dis ’n fassinerende blik op die verlede en die betekenis van die verskillende tekens.

Nuwe boek kollig

Wessel Oosthuizen is ’n bekroonde foto joernalis wie se foto’s van sport persoonlikhede in aksie, wêreld voorblaaie gehaal het en selfs op die rype ouderdom van 80 jaar neem Wessel steeds foto’s. Hy het pas sy boek Koerantman: My lewe in drukkersink bekend gestel. Die boek is vol pragtige foto’s en staaltjies van sy loopbaan en lewe.

Video kollig

Terwyl ons nou die lente binnegaan, deel ek graag met julle hierdie pragtige lente kombuis video. Dis so rustig en ontspanne. Dit sal jou sommer lus maak vir die lente en komende somer.

Grapjas

grapjas

Musiek kollig

Frank Sinatra se Strangers in the night is hierdie maand se musiek keuse. Daar is verskeie weergawes van Olé Blue eyes. Hierdie ene is vir my die beste. Sag en strelend. Geniet dit.

Inspirasie

Tuinmaak is ’n wonderlike mate van terapie en geestelike ervaring.  Selfs al het jy nog nooit tuingemaak nie en selfs al dink jy dit is nie vir jou nie wil ek jou motiveer om na hierdie video te kyk. Dit neem tuinmaak na ’n volgende vlak. ’n Kunswerk. Die moontlikhede is oneindig.

Diere sake

Papegaaie is  slim diere en hierdie ene is nie net slim nie. Hy is ’n jongman se beste vriend en raas met hom nes sy Ma. Dis kostelik.

Bybel vers

PSALMS 105:1 AFR83

Loof die Here! Roep Hom aan! Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het.

Vinnige Resep

Sneeu pieke

Jy kan selfs ’n bietjie appelkoos of berrie konfyt op smeer voor jy dit bak.

1 rol puff pastry
1 eetlepel Botter gesmelt
Versiersuiker

METODE:

Rol die puff pastry oop en sny in 24 vierkante
Smeer met gesmelte botter
Sit op gesmeerde bakplaat en bak tot bruin by 180 C.
Haal uit oond en laat effens afkoel.
Sif versiersuiker bo-oor

Dankie vir die saam kuier. Terugvoer en versoeke word verwelkom. Tot volgende keer.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.