Corona dagboek week 15
Corona dagboek week 15: Son 21 Junie tot Sat 27 Junie 2020
Sondag 21 Junie 2020
S.A. Infeksies: 97 302 Sterftes: 1930
My dag het ek heerlik lui op die bank in die son deurgebring met ‘n boek en ‘n beker koffie. Oja Millie het saam met my op die bank gekuier terwyl my kos in die slow cooker geprut het. Vadersdag het nie vir my veel betekenis nie. My Pa is oorlede toe ek 5 jaar oud was en my man toe ek 28 jaar oud was en ek het nie Oupas of Ooms gehad nie. Mans is vir my ruimtewesens (ek bedoel niks leliks daarby nie )Hoe was julle dag, het julle lekker geëet?
DANKBAAR
- Slow cooker kos – altyd ‘n wenner
- Smarties vir poeding
- Die winterson in my sitkamer
Maandag 22 Junie 2020
S.A. Infeksies: 101 590 Sterftes: 1991
Vandag het ek hard gewerk om al die gemors op te ruim nadat my boekrak projek afgehandel is en dit was nou nogal ‘n uitdaging. Ek is nog lekker moeg na die afgelope week se werkery en wil eintlik nog rus maar daar is nie veel genade nie. Ten minste luister ek musiek terwyl ek werk.
DANKBAAR
- Radio praatjies en musiek
- Wasgoed se reuk wanneer dit in die son drooggeword het
- Lekker warm bad
Dinsdag 23 Junie 2020
S.A. Infeksies: 106 108 Sterftes: 2102
Die ouetehuis waarin my Ma is, het hulle eerste positiewe COVID 19 geval nadat een van die werkers positief getoets het. Die bestuur het toe besluit om al die ou mense in die woonstelle sowel as die kamers tot hulle wooneenhede te beperk wat ‘n ernstige emosionele uitwerking op die ou mensies het. My oudtste suster het toe vir my Ma inderhaas ‘n blyplek ingerig by hulle. Vanaand is my Ma dus by haar eie mense vir die eerste keer van Maart af. Ons het geen idee hoe lank dit sal wees nie, heel waarskynlik tot die einde van die jaar.
DANKBAAR
- My Ma het nou meer vryheid by my suster en nie meer opgehok in die ouetehuis nie.
- My leesbril is vir my goud werd.
- Tamatie plantjies wat so mooi groei
Woensdag 24 Junie 2020
S.A. Infeksies: 111 796 Sterftes: 2 205
Ek het dorp toe gegaan vandag en die nodige goed gekoop insluitend ‘n sjokolade of 2. Die winkels is weer besig alhoewel meeste by die sosiale afstand regulasie en verpligte maskers hou. Dis duidelik dat dit nou deel van ons nuwe normaal raak. Ek het vanaand my eie Tortilla wraps gemaak – niks kom by tuisgemaak nie.
DANKBAAR
- Tuisgemaakte Tortilla wraps
- Sjokolade in alle vorms.
- Kontinentale kussings
Donderdag 25 Junie 2020
S.A. Infeksies:118 375 Sterftes: 2292
‘n Somersdag in die middel van die winter is wat ons vandag beleef het. Mens sou nooit sê dat ons veronderstel is om onder komberse te sit nie, daarvoor het die son te warm geskyn. Ek sal ontkenners nooit verstaan nie. Vat byvoorbeeld Hitler en die Natzis: Die bewyse is daar vir almal om te sien en tog is daar steeds mense wat ontken dat dit ooit gebeur het. Dieselfde met COVID 19 en dis jammer want a.g.v. Mense se ontkenning sterf onskuldige mense.
DANKBAAR
- Tuisgemaakte hoender pastei
- Gebed enige tyd enige plek
- Naald en garing wat enige ding kan heel maak
Vrydag 26 Junie 2020
S.A. Infeksies: 124 590 Sterftes: 2340
‘n Pot sop pruttend in die slow cooker, warm sjokolade, my drie sitplek bank en omring deur boeke en nogmaals boeke. Dis die lewe. Dit maak my gelukkig op ‘n koue nat Vrydag. Oja en Millie wat langs my lê en my voete warm hou. Liefde in oorvloed.
DANKBAAR
- Sop op ‘n koue nat dag
- Warm sjokolade
- ‘n Warm kamerjas
Saterdag 27 Junie 2020
S.A. Infeksies:131 800 Sterftes: 2413
Die wind die waai is wat vandag hier by ons aan die orde van die dag was. My hond Millie wou glad nie voor gaan sit nie en het op my bed bly lê waar dinge rustiger is. Dit voel soos Augustus maand winde.
My Ma – ‘n opvolg
Dit gaan goed met my Ma by my suster. Sy geniet dit om haar eie klein woonstel te hê en te kom en gaan soos sy lus het. Sommige van my lesers het gevra waarom my Ma in die eerste plek in ‘n ouetehuis bly en nie by een van ons nie. My Ma is ‘n baie onafhanklike vrou en het nog altyd gesê dat sy nie by een van ons wil gaan woon wanneer sy te oud is om na haarself om te sien nie. Vyf jaar gelede het daardie dag aangebreek en het daar ‘n woonstel oopgegaan in die ouetehuis. My Ma het dus die afgelope 5 jaar gelukkig in ‘n woonstel in die ouetehuis gewoon totdat die Coronavirus sy intrek geneem het en hulle nie toegelaat was om besoekers te ontvang of uit te gaan nie. Steeds wou my Ma nie by een van ons kom bly nie totdat my suster wat op ‘n plaas woon ‘n plan beraam het en ‘n gedeelte van die plaashuis in ‘n mini woonstel vir my Ma omskep het. Alhoewel sy 3 etes ‘n dag uit die plaaskombuis nuttig, kan sy vrylik op die plaas rondbeweeg, self vir haar koffie en tee maak en rus wanneer sy so voel.
DANKBAAR
- My Ma se mini woonstel op my suster se plaas
- Filter koffie
- Gebraaide aartappels
Gesels saam
- Gaan na my Posbus bladsy
- Los ‘n boodskap
- Stuur ‘n e-pos
- Teken in op my Nuusbrief en bly op datum
- Besoek my Engelse webblad Let’s make tea vir nog meer artikels.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you