Tuinmaak is terapeuties
Tuinmaak is terapeuties en helend vir jou siel. Of dit nou ‘n formele of informele tuin is, klein of groot, Ek is ‘n beginner tuinier– tot my spyt en skande. Liewer laat as nooit.
My mentor is my Ma
Vandat ek verstand het ken ek my Ma as ‘n uithaler tuinier. Haar voortuin by my kindertyd huis was selfs op die voorblad van die tuin tydskrif Gusto. Voorwaar ‘n prestasie vir iemand wat haarself geleer het. Sy was lief vir fyntuin met baie blomme – en baie werk. Tydens my kindertyd het ek nie besef hoeveel werk en tyd in ‘n mooi tuin ingaan nie. Ek het dit net as vanselfsprekend aanvaar.
My Ma het radio geluister en saam gesing terwyl sy al haar ledige tyd in die tuin deurgebring het
Sy was gelukkig in haar tuin tussen die blomme, groen grasperk en met haar kaal hande in die grond. In my tienerjare het die alewige tuinmaak my irriteer veral omdat ons moes help met bossies uittrek. Die eetbare tuin het uie, tamaties, aartappels, bone opgelewer en ons moes dit help opkerf sodat my Ma dit kon verwerk en vries. Ek het die grond onder my naels verpes.
In 2015 het dinge verander
My Ma het haar huis verkoop en ouetehuis toe getrek. Haar tuin is nou ‘n klompie potplante in die gang voor haar woonstel en nog ‘n paar in haar klein voorhuis. Nog ‘n paar jaar het verby gegaan totdat ek in 2018 die eerste keer begin tuinmaak het. Ek het heelparty foute gemaak en met Google en YouTube se hulp geleer wat ek moet doen en wat nie. Tanya Visser se tuinmaak wenke help ook baie.
Tuinmaak is terapeuties
Tydens COVID het ek werklik die waarde van tuinmaak begin besef. Wanneer ek in my tuin besig is ervaar ek diep genesing en groei. Die vreugde om ‘n nuwe blaar te sien groei of ‘n saaitjie wat ontkiem is voedsel vir my siel. Ek wens wel ek het jare gelede al begin tuinmaak. My Ma se verstand is nie meer wat dit was nie en baie van haar tuinmaak kennis kwyn saam met haar verstand weg. Behalwe vir dit is ek dankbaar dat ek die waarde van tuinmaak leer ken.
elsabeskryf
14 June 2022 at 9:28 pmMy man sal jou hart verstaan – want dis hoe hy voel oor tuinmaak!