Troepie Doepie

Troepie Doepie wanneer kom jy huis toe? Ek onthou nog hierdie gewilde lied van Rina Hugo. In die jare toe ons jong seuns aan die grens was. Saterdae was dit versoeke vir die manne aan die grens en die Bel en ry na.  Kersfeestye was daar spesiale versoeke vir die mans so vêr van die huis af. Alhoewel ons nie ’n broer of seun aan die grens gehad het nie was dit deel van ons lewens.

troepie doepie

My Ma het graag die jong mans in hulle uniforms opgelaai en soms het hulle gejok en ons laat ompaaie ry

Dit was egter eers jare later wat ek deel van die vroue was wie se mans aan die grens was. My oorlede man is opgeroep grens toe en ek het as jong getroude vrou alleen agtergebly. Ons het briewe vir mekaar geskryf wat weke geneem het om hulle bestemming te bereik. Tydens sy tyd aan die grens is Wynand du Toit vrygelaat na 2 jaar in ’n Angolese tronk en het ek die regstreekse uitsending gekyk en gebid dat my man veilig terugkeer huis toe.

Die dag wat Hannes teruggekeer het huis toe het ek vroeg by die trein stasie gewag. Die trein het stadig ingery

Op die platform was meisies en vrouens wat hulle troepie doepie ingewag het. Dit was ’n blye weersien. Ons geliefdes was veilig terug. Die platform was vol dienspligtiges, vrouens, kinders en ouers. Eers later het ons gehoor van diegene wat nie so gelukkig was nie. Die grens het die manne verander – meer volwasse en minder ligsinnig.

Suid-Afrika het nie meer verpligte diensplig nie

Meeste ouens was daardie jare bly oor diensplig. Veral diegene wat nie geweet het wat hulle na skool wou doen nie. Diensplig het hulle 2 jaar gegee om hulleself uit te sorteer. Terwyl daar nou 2 oorloë aan die woed is in Israel en die Oekraïne sien ek die foto’s van die dienspligtiges en hulle families wat afskeid neem van mekaar. Ander verwelkom weer hulle troepie doepie terug en ander begrawe hulle soldaat.

Dit laat my terugdink aan ons soldate in die vreemde en wat hulle en hulle geliefdes alles moes deurmaak.

Kuier verder

  • Die Naguil is ‘n gratis aanlyn koerant wat maandeliks op die webblad verskyn.
  • We also publish original articles, stories and opinions in English
  • Kosreise is ‘n webblad met resepte en reis stories

2 Comments

  1. scrapydo2.wordpress.com

    23 July 2024 at 5:06 am

    Ek het ook groot geword met seuns/jong manne wat grens toe gegaan het. Later jare het ek ook heelwat manne geken wat grens toe was en geheel verander het. My man het ook nog in 1980s kommando diens gedoen vir twee weke elke jaar by Saso II en III. Veral gedurende die guerilla aanvalle op Sasol. Dis maar moeilike tye om as vrou die huis en haard te beskerm en aan die gang te hou. Dit het ons as vroue ook sterker gemaak.

    1. Amandaskrywer

      4 August 2024 at 5:44 pm

      Die vrouens het die gesin bymekaar gehou. Hulle was die anker en die mans die helde

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.