So ry die trein

So ry die trein

So ry die trein deur my lewe. My Pa was ‘n trein drywer en my kindertyd is gevul met trein vakansies. Avonture. Kosbare herrinnneringe

Wanneer ek terug dink aan my kinderjare en wanneer ek en my familie oor die ou dae gesels kom treine elke keer ter sprake. Veral stoom treine.

Kosbare herrinneringe

Ek raak heel nostalgies wanneer ek treine sien. Ek het groot geword as die dogter van ‘n trein drywer. Ons het dikwels van Port Shepstone na Durban gery vir ‘n dag uitstappie stad toe met my Pa as die drywer. My Pa het stoom treine gedryf en was besig met ‘n oorbruggings kursus na elektriese treine toe hy oppad na die kollege in ‘n motorongeluk gesterf het. Ten spyte van my Pa se afsterwe het ons steeds elke jaar ‘n vrypas gekry en die land en buurlande plat gery. Ek het die voorreg gehad om na die ou Rhodesia per trein te ry. Stoomtrein. Ons het uitgehang by die vensters terwyl die roet ons hare vol swart spikkels versier het. Ons gesigte vol swart sproete en ons kaal voete op die trein vloere onherkenbaar. Die gewag vir die verversings trollie. Saans het ons in die donker geluister na die geluid van die trein wiele op die spore en die reën op die dak wat ons aan die slaap gesus het.

Skoolvakansies

Elke Junie/Julie skoolvakansie was ‘n trein vakansie. Daar was die een vakansie waar ons in die middel van die nag by Koppies afgeklim het vir ‘n gedeelte van ons kuier. ‘n Ander keer moes ons ‘n hele nag en ‘n halwe dag in die wagkamer van Bloemfontein stasie kampeer nadat ons trein langs die pad gebreek het. Dit was ‘n avontuur op sy eie. Meeste kinders in my klas het nog nooit op ‘n slaap trein gereis nie en dit terwyl ek grootgeword het op treine. Wat ‘n voorreg!

Die pret hou aan

Na skool is ek Polisie Kollege toe met die trein en het gereeld huis toe gegaan met die trein. Ek het ook my kinders blootgestel aan trein ry en hulle het dit net soveel as ek geniet. Die begeerte is steeds daar om weer trein te ry. Die laaste keer was in 2006. Ek kyk graag die ou trein video’s ook van ander lander. Daar is iets betowerends aan trein ry.

Het julle al trein gery? Deel gerus julle ondervinding.

So ry die trein

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.