Sagrya Engelbrecht was haar naam

Sagrya Engelbrecht was haar naam

Sagrya Engelbrecht was haar naam. Sy was 81 jaar oud en ‘n inwoner van Huis Maudie Kriel in Ceres. Haar lewe het saak gemaak. Die manier waarop sy gesterf het was voorkombaar en onmenslik.

Sagrya Engelbrecht was ‘n Ma, Ouma en Oumagrootjie

Volgens media berigte asook die ACVV is die Tante na buite geneem om te rook en waarskynlik daar vergeet. Sy is die volgende oggend dood in haar rystoel gevind. Dit was die betrokke nag 4 grade Celcius. Laer is getrek rondom die ouetehuis se bestuur en personeel asook die Departement van Maatskaplike dienste. Niemand mag met die media praat nie en die voorval is in geheimsinnigheid omhul. Die feit bly staan dat Tante Sagrya Engelbrecht in haar rystoel in die tuin van Huis Maudie Kriel gesterf het.

Die publieke reaksie

Soos verwag het die publiek woedend kennis geneem van die manier waarop Tante Sagrya gesterf het. Die mense soek antwoorde. Hoe kon dit gebeur het? Die facebookblad se kommentaar seksie van Huis Maudie Kriel is slegs beskikbaar vir uitgesoekte mense wat slegs positiewe ondersteunende kommentaar op die blad lewer. Selfs op die berigte is daar mense wat die Tehuis verbete beskerm sonder enige meelewing met wat Tante Sagrya in haar laaste angswekkende nag moes deurmaak tussen mense wat betaal word om na haar om te sien nie.

Wie is reg en wie is verkeerd?

Terwyl die voorval nog ondersoek word en daar min inligting beskikbaar gemaak is, kan daar nog nie met 100% sekerheid bepaal word wat die waarheid is nie. Volgens die ACVV sal ‘n volledige verklaring uitgereik word na afhandeling van die ondersoek. Hopenlik sal die waarheid geopenbaar word en nie onder die mat ingevee word nie. Media berigte beweer ook dat daar voorheen al sterfgevalle by die tehuis was wat nie verklaar kon word nie.

Bejaardes se vrese

Die afsterwe van Tante Sagrya het regoor Suid Afrika opslae gemaak – en vrees onder bejaardes gesaai. Dis winter en hulle sit graag in die son buite. Gaan hulle ook buite vergeet word om te verkluim?

My huldeblyk

Die omstandighede rondom die Tannie se dood was ontstellend vir my. My Ma is 85 jaar oud en ook in ‘n ouetehuis. Sy kan nog loop en haarself help – sy is wel soms baie vergeetagtig. Ek kan my nie indink hoe die familie en vriende van die Tannie moet voel nie – jammer dat julle geliefde Moeder en Ouma op so ‘n manier moes sterf. Ek het nie woorde om julle te troos nie. Mag die liewe Vader vir julle dra in hierdie moeilike tyd.

Sagrya Engelbrecht was haar naam – rus in vrede – U leiding is nou verby.

Dankie vir die saam kuier. Praat saam en teken in op die nuusbrief. Lewer kommentaar en vertel ander van die webblad.

2 Comments

  1. elsabeskryf

    15 Augustus 2022 at 12:02 nm

    Dis absoluut hartverskeurend as brose mense so iets oorkom. 😥

    1. Amandaskrywer(Aduppie)

      16 Augustus 2022 at 2:42 nm

      Ongelooflik en onaanvaarbaar

Het jy iets op die hart? Gesels saam

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: