Dis hoe dit is om vir ‘n ponie koerant te skryf

ponie koerant

In 2005 het ek alreeds vir ‘n paar jaar as joernalis gewerk by een van ons plaaslike koerante. ‘n Heel respektabele koerant, alhoewel met ‘n klein lesers groep. Terwyl die koerant gesukkel het om kop bo water te hou, het ‘n advertensie op die Internet my aandag getrek: Dit was vir vryskut joernaliste in die Tuinroete. ‘n Nuwe nasionale ponie oftewel Tabloid koerant was bekendgestel. ‘n Eerste in Suid Afrika.

Ek het aansoek gedoen, en nadat ek my eerste storie ingestuur het is ek aanvaar.

Die avontuur begin

Ten tye van die verskyning van hierdie Ponie koerant, het ek geen kennis gehad van joernalis speel vir ‘n ponie koerant nie. Dis heeltemal anders as om vir ‘n koerant soos Die Burger te skryf. Die storie wat ek ingestuur het, is teruggestuur met aanwysings. My skryfstyl was te konserwatief. Ek moes aanleer hoe om ‘n loslit, vry spraak storie te skryf met ietwat platvloerse woorde. Dit het maar sukkelend gegaan want dis nie hoe ek daagliks skryf en praat nie.

Ek het egter die geld nodig gehad as ‘n enkel ouer met 2 kinders. Ek is vir elke artikel betaal wanneer dit aanvaar is vir publikasie en een van my artikels het die voorblad van die koerant gehaal. Elke paar Rand het gehelp om kos op die tafel te sit. Intussen het die plaaslike koerant waar ek voltyds joernalis was toegemaak en was die Ponie koerant ‘n nodige bron van inkomste.

So het dit gewerk

Behalwe die skryfstyl wat soveel anders was, was vryskut Joernalis ook iets om aan gewoond te raak.

Ek het van die huis afgewerk sonder kantoor personeel en ek moes self die stories soek. Daar was nie iemand wat soggens vir my ‘n lys van stories gegee het nie. Een of twee keer is ek wel gebel om ‘n storie op te volg aangesien die oorspronklike joernalis nie beskikbaar was nie. Dis veral moeilik wanneer jy ‘n storie moet opvolg in ‘n gebied en met mense waarmee jy nie bekend is nie. Jy moet dan eers die mense se vertroue wen alvorens hulle gaan oopmaak teenoor jou.

Op ‘n ernstige trant

Selfs iets ernstig soos bloedskande, verkragting ens. moes op ‘n loslit manier geskryf word. Dit wil nie sê dat jy disrespekvol moes wees nie – net dat die lesers dit maklik moes kan lees en verstaan op die manier waarop hulle in die volksmond praat.

Tyd om te bedank

Ek het vir minder as ‘n jaar by die ponie koerant gewerk voordat ek weer ‘n vaste aanstelling as persoonlike assistent by ‘n internasionale wegneem restaurant gekry het. Dit is weer ‘n ander tipe avontuur gewees waaroor ek in ‘n toekomstige artikel meer sal vertel.

Goed en sleg

Daar is beslis goed en sleg in elke beroep en Ponie koerant Joernalis was uitdagend met tye. Dit het my ook uit my gemaksone gedwing. Ek het egter nie gehou van die skryfstyl waaraan ek moes voldoen nie. Dis ‘n persoonlike keuse en beteken nie dat een of ander Joernalis beter as ‘n ander is nie. Ek is nie spyt vir die ondervinding nie.

Joernalis Yolanda Barnard se boek Die ponies galop: Seks en skandale van die sterre bied ‘n goeie beeld op die lewe van ‘n Joernalis wat vir jare in hierdie veld gewerk het.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.