Perfeksionisme in ’n neutedop
Welkom by Teetyd kuiers. Ontspan lekker met ‘n koppie tee en gesels saam
Perfeksionisme in ’n neutedop soos gesien en ervaar deur my. Ek is egter nie ’n perfeksionis nie. Alles behalwe. Ek het egter grootgeword met ’n Perfeksionis vir ’n Ma. Vandag lag ons tog te lekker oor al die traumas wat ons moes deurmaak onder ’n Ma wat net nie kon ontspan nie. Dit was egter nie snaaks toe ons daarmee moes saamleef nie.
Ek sou van die skool afkom en al my klere op die vloer vind
Volgens Ma was my klere nie netjies in my kas nie. Ons klere moes almal dieselfde opgevou gewees het. Gemeet met ’n liniaal. Daar was geen ruimte vir individualisme nie. Militêre netheid was waarna ons moes strewe. So ook in die sitkamer. Ons het TV gekyk vanuit ’n bel en klou sitkamerstel en ons arms mag nie op die leunings gerus het nie en wanneer ons ’n glips gehad het, is die meubelpolitoer en stoflap vinnig aangedra.
Ek het vinnig geleer en liewer op die sitkamer mat gesit.
Dit was hemels toe Ma vir ons ’n poef (boontjie sak) gekoop het. Ons drie meisiekinders het mekaar verdring om op die poef stelling in te neem. Ons was drie kinders en daar was net een poef… Wanneer ons legkaarte gebou het moes ons dit in een sessie bou anders word alles opgepak wanneer jy badkamer toe gaan. Saans na Televisie moes die matte en meubels skoon wees voor ons kon gaan slaap. Dieselfde met die kombuis. Elke ding op sy plek.
Ma se perfeksionisme kom van haar arm grootword jare af
Sy het dit nooit ontgroei nie. Selfs nie nou in haar hoë ouderdom nie. Oktober 2022 het sy ’n groot beroerte gehad en moes ons na haar kyk op ons onvolmaakte manier. Dit het gelyk of Ma haar titel as perfeksionis verloor het. Kersfees 2024 het ek na haar gekyk en gehelp om haar bed op te maak. Ek aan die een kant van die bed en sy aan die ander. Dit het vir my heel goed gelyk. “Amanda, maak jou kant reg, sodat dit soos myne lyk” Die Perfeksionis is terug.
Besoek gerus ook Kosreise vir verder kuier en sakpas eetgoed.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you