Omtrent skryf

skryf kompetisies en skryf skole

Die redes omtrent skryf

  • Dit gee die skrywer ‘n stem
  • Dis ontspannend
  • Jou kreatiwiteit word benut
  • Jy kan uiting gee aan jou emosies
  • Daar is die moontlikheid om ‘n ekstra geldjie te maak.
  • Jy kan selfs ‘n loopbaan daaruit maak

Dit maak nie saak wat die redes is nie, daar is nie reg of verkeerd nie. My rede vir skryf is om my skryfwerk te gebruik om die mense rondom my se lewens te verryk.

Omtrent dagboek skryf

Ek skryf graag in my dagboek of joernaal soos sommige mense dit noem. Dit gee my ‘n manier om uiting aan my gevoelens te gee sonder dat ek myself blootstel aan afbrekende kritiek en/of mense wat my woorde teen my kan gebruik. My dagboek is net myne en ek deel my diepste geheime, vrese en vreugdes in die blaaie. Dit het ‘n helende effek op my siel.

Kort voor grendeltyd 2020 het ek die boek Om tot verhaal te kom aangekoop wat juis daaroor handel om jou rou emosies op papier te skryf. Die konsep van dagboek skryf staan as skryf terapie bekend.

Omtrent Webblad skryf

In die jaar 2000 het ek aangesluit by die Internet gemeenskap. Dit was nog met die R7 Telkom aanbieding vir “Dial up”. Ek was verstom met die moontlikhede en die baie inligting. Die sangeres het byvoorbeeld oor die 300 webblaaie gehad met haar as die fokus en elkeen het ‘n verskillende inslag gehad. Dit was voor sosiale media die Internet oorheers het. Die verskillende webblaaie was waar die aksie was. Meeste van hulle het forums gehad waarop jy kon gesels.

In die huidige jaar met sosiale media is webblaaie nie meer so gewild nie. Mense is nou ingestel op dadelike aksie en reaksie en bou hulle hele lewe op sosiale media. Influencers oorheers tans die mark. Baie vermaaklikheid persoonlikhede het net sosiale bladsye en geen persoonlike webblad nie.

Dit kan ‘n probleem raak vorentoe om net op sosiale media te fokus. Sosiale media besit jou bladsy en kan dit enige tyd verwyder en dan is al jou inligting en aanhangers daarmee heen. Alhoewel sosiale media makliker en gouer is om ‘n aanlyn gemeenskap te vestig is jou eie webblad baie meer stabiel. Solank as wat jy jou jaarlikse hernuwings fooi vir jou webblad betaal, is jou inligting veilig. Jy het baie meer vryheid oor wat jy op jou webblad deel. Daar is niks mee fout om beide te hê nie.

Ek het besluit om net ‘n webblad te hê sonder sosiale media aanhangsels en my webblad het ook geen advertensies op nie. Ek verkies ‘n skoon, oop webblad wat fokus op die inligting daarop.

Omtrent skryf vir geld

Daar is mense wat ‘n loopbaan maak uit skryf en daar is verskeie moontlikhede. Jy kan boeke skryf, stories of artikels vir tydskrifte skryf of selfs toesprake en verslae. Die moontlikhede lê oop voor jou. Die Afrikaanse mark is uniek en volgens my ‘n beter opsie as die Engelse mark in Suid Afrika wat moet meeding met nasionale asook internasionale kompetisie. Mense is meer geneig om oorsese Engelse skrywers se boeke te lees as Engelse skrywers van Suid Afrika.

Die Suid Afrikaanse boek verkope is oor die algemeen heelwat minder as die van byvoorbeeld in Amerika. Onlangs het Netwerk 24 die Top 20 Afrikaanse boek verkope vir 2020 bekend gemaak. Dit wys duidelik hoe relatief min boeke in Suid Afrika gekoop word. Meeste Suid Afrikaanse skrywers het bykomende werke om hulle inkomste aan te vul. Dis ‘n fantasie om te droom van miljoene boek verkope wat jou oornag ryk gaan maak. Nie onmoontlik nie net onwaarskynlik.

Omtrent skryf skole

Nadat ek as ‘n joernalis begin werk het wou ek bietjie slyp aan my skryfwerk en het begin lees oor wat die beste is. Elke keer het skryf skole na die voorgrond getree. Volgens die geleerdes moet elke aspirant skrywer ten minste een skryf skool bywoon. Dit is beslis iets wat ek nog wil doen. Skryf skole word aangebied deur van die beste skrywers in die land. Dit is egter nie finansieel binne almal se bereik nie. Dit verg deeglike vooruit beplanning om ‘n skryf skool by te woon.

Omtrent kursusse oor skryf

Daar is egter ander moontlikhede indien jy nie tans ‘n skryf skool kan bekostig nie. Daar word verskeie skryf kursusse aangebied, Sommiges fokus op die basiese skryf proses ander fokus op een spesifieke onderwerp byvoorbeeld kortverhale. Jy kan dan die kursusse doen soos en wanneer jou finansies dit toelaat. Die webblaaie wat skryf kursusse aanbied word hieronder gelys.

Omtrent Boeke oor skryf

Daar is werklik iets vir almal. Die plaaslike biblioteek is ‘n goeie en gratis wegspring plek. Daar is natuurlik ook tweedehandse boekwinkels waar jy dikwels boeke oor skryf vir ‘n appel en ui kan koop.

Kyk uit vir die volgende nuttige boeke:

Die Afrikaanse skryf gids deur Riana Scheepers

Die fisiese boek is tans uit druk uit. Daar is wel ‘n e-boek beskikbaar by takealot. My plaaslike biblioteek het ‘n kopie van die boek op hulle rakke en ek het dit gelees en aantekeninge gemaak. Dit is ‘n indrukwekkende boek met tonne nuttige wenke en raad van bekende Afrikaanse skrywers.

Om tot verhaal te kom deur Lizette Rabie

Soos vroeër vermeld is hierdie boek ‘n handleiding of nuttige gids om skryf as terapie te gebruik wanneer jy sukkel met trauma en gepaardgaande emosies in jou persoonlike lewe. ‘n Pleister vir jou siel en jou gesond word proses.

Skryf ateljee deur Hans du Plessis en Dawie Steenberg

Hierdie boek bevat uittreksels uit ATKV skryf skole van Potchefstroom met lesings van bekende Arikaanse skrywers. Alhoewel die boek in 1992 verskyn het is die inligting hierin vervat steeds van toepassing.

Skryf ‘n storie deur Hans du Plessis

Hierdie boek het in 1993 verskyn en bevat praktiese wenke vir opkomende skrywers. Na elke hoofstuk is daar ‘n navors en opdrag stuk wat die voornemende skrywer help slyp. ‘n Nuttige klein boekie.

Om te skryf uitgegee deur Van Schaik uitgewers

Dis ‘n lywige boek van 664 bladsye (steeds in druk) met tegniese hulp deur bekende Afrikaanse skrywers met oefeninge wat daarop gemik is om die aspirant skrywer se skryfvaardighede te verbeter. ‘n Uitsonderlike boek wat jou wys hoe bekende skrywers dit doen. ‘n Boek om altyd byderhand te hê.

How to get published in South Africa geskryf deur Basil van Rooyen

Hierdie is ‘n Engelse boek wat alle aspek van die publikasie proses van Afrikaanse en Engelse boeke in Suid Afrika dek. Dit leer jou waarna ‘n uitgewer kyk wanneer hy jou manuskrip in sy hande vashou. Dit gee ook nuttige wenke vir die skrywer en slaggate wat die skrywer moet vermy.

Successful self publishing in South Africa geskryf deur Heather Parker Lewis

Hierdie Engelse boek is geskryf deur ‘n ghoeroe in self publisering. Sy neem jou stap vir stap deur die proses om jou boek self te publiseer. Ek het hierdie boek in ons plaaslike biblioteek raak geloop en is beïndruk. Daar kleef dikwels ‘n stigma aan ‘n skrywer wat hierdie roete verkies. Wanneer jy egter deur hierdie boek lees besef jy dat om werklik suksesvol te wees in hierdie manier van publiseer vat “guts” soos die Engelse sal sê. Dit is die moeite werd om te lees selfs al hou jy eerder van die tradisionele manier van publisering.

Omtrent Skryf kompetisies

Voornemende skrywers kan hulle skryfvaardighede toets aan hand van skryf kompetisies. Verskeie Afrikaanse skryf kompetisies word elke jaar aangebied van gedigte tot kortverhale, romans en jeugverhale. Selfs al is jy onsuksesvol is dit nuttig om die wenners se werke te lees en jou eie vaardighede op te skerp. Litnet maak gereeld skryf kompetisies bekend, so ook Netwerk 24, Maroela media, Lapa uitgewers, NB uitgewers en Skryfgeheime

Webblaaie oor skryf

Daar is verskeie webblaaie wat oor die wonder wêreld van skryf handel in Afrikaans. Besoek hulle gerus en kyk waarby jy aanklank vind.

Skryfgeheime

Hierdie webblad het ‘n magdom inligting oor skryf. Hulle bied ook aanlyn skryf kursusse aan en het ‘n indrukwekkende lys van skryf kompetisies. Hulle doen ook manuskrip redigering

SA vryskut skrywers

‘n Web portaal vir skrywers met inligting oor skryf moontlikhede deur mense wat self as vryskut skrywers werk.

Afrifiksie

‘n Webblad vir fantasie skrywers. Met ‘n goeie hoeveelheid artikels oor fantasie skryf bied hulle ook ‘n jaarlikse kompetisie aan.

Afrikaans

‘n Webblad oor alles afrikaans met wenke, artikels, kompetisies en onderhoude.

Litnet

‘n Tuiste vir skrywers en lesers in Afrikaans oor verskeie onderwerpe, onderhoude, kompetisies, wenke, opinies, menings.

Dalk is daar nog

Alhoewel ek probeer het om soveel as moontlik velde rondom skryf te dek is die moontlikheid daar dat ek iets kon uitlaat. Miskien wil jy nog ‘n boek oor skryf by die lys voeg of nog ‘n webblad. Skryf gerus vir my met voorstelle om die artikel by te werk.

Begin skryf

Jy weet dalk nie. Moontlik is jy die volgende bekroonde Afrikaanse skrywer. Selfs al stel jy nie belang om ‘n boek uit te bring of vir ‘n tydskrif te skryf nie, kan skryf jou net dalk help om die lewe in die oë te kyk en uiting aan jou emosies te gee. Lekker skryf.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.