Naguil koerant uitgawe 4 van 2023
Die Naguil koerant is ‘n aanlyn koerant wat weekliks op die webblad verskyn. Kliek op die blou skakel in die storie en dit sal jou neem na die oorspronklike storie.
Van die Redaktrise
In die begin van die winter breek daar toe ook ’n 100 jaar vloed deur en het ek myself in ’n klein bussie bevind op pad na Swellendam toe die groot reëns begin. Die langnaweek het heel anders beloop as wat ons beplan het. Ons was vasgevang op my suster-hulle se plaas met die Breë rivier. Die Kaap van storms het sy naam goed gestand gedoen en het my ook die geleentheid gegee om die Breë rivier in vloed te sien afkom. Dit was aangrypend om te sien in lewende lywe en my hart gaan uit na die families wat geliefdes aan die dood moes afstaan weens die oorstromings.
Hierdie maand in die 4de uitgawe van die Naguil van 2023 is daar ’n heerlike Franse warm sjokolade drankie om te maak in ons resepte afdeling, ’n Pragtige blom video om jou winter op te helder asook ’n kuier by die inspirerende en geliefde Audrey Blignaut. Daar is ’n inspirerende video van Vader Brenner wat vermoor is terwyl hy vir God gewerk het en die mooiste pers agapanthus wat goud gewen het by Chelsea.
Soveel lekker leesstof vir hierdie koue maand. Geniet die koerant en bly veilig.
Groete
Amanda
Skrywer kollig
“Kan jy aan ’n lekkerder geskenk as ’n goeie boek dink? […] Só ’n geskenk het blywende waarde. Moet nooit die vormende invloed van ’n goeie boek onderskat nie.” (Rooi Rose, Maart 2004)
Audrey Blignaut is in 1916 in Bredasdorp gebore en was ’n baanbreker vir vroue skryfsters. Sy was 25 jaar lank rubriekskrywer vir Sarie tydskrif. Audrey was die eerste vrou wat ’n boeke program op radio aangebied het. Sy het verskeie boeke in haar lewe geskryf waaronder Die rooi granaat, Oulap se rooi en Om die son te aanskou. Selfs na haar dood in 2008 in die ouderdom van 92 jaar word nuwe boeke deur die gewilde skrywer steeds gepubliseer.
“Ek hou van rooi, omdat dit vir my die simbool van baie dinge is. Dit is ’n mooi vrolike en vreugdevolle kleur; dit getuig van lewensdrif; dit is die kleur van geloof. […] [D]ie geloof wat ek nooit mag prysgee nie, al is die lewe vol verydeling en onvolmaaktheid en verdriet.” (Volksblad, 1 Mei 1967)
Ou boek kollig
Wolf ja Wolf nee is ’n jeugboek geskryf deur Elsabe Steenberg. Ek het die boek as kind by ’n Sondagskool prysuitdeling gekry en dit is steeds een van my gunsteling jeug boeke. Nelia is ’n weeskind wat ontsnap uit die werklike lewe deurdat sy vir haarself ’n beter lewe in haar gedagtes geskep het totdat Renata se liefde en omgee haar help om weer te lewe
Stories oor plekke en sy mense
- Die bekende boot Titanic het heelwat Suid-Afrikaners aan boord gehad toe dit in 1912 gesink het. In hierdie artikel vertel die skrywer meer oor ons mede burgers wat die vaart meegemaak het en wie van hulle oorleef het.
- Vader János Brenner was ’n jong katolieke Priester in Hongarye toe die Soviet Unie sy land in 1956 binnegeval het. Godsdiens is verbied deur die kommuniste. Hierdie jong man het egter geweier om God te verraai en hy het met sy lewe betaal vir sy lojaliteit. Selfs 32 messteke kon hom nie oortuig om God te verraai nie.
- Twee Suid-Afrikaners het goud gewen by die Chelsea blomme skou met hulle pragtige pers agapanthus.
- Het jy al ooit gewonder watter werk die mense doen wat alewig besig is met een of ander protesaksie? Hierdie video werp meer lig op die netelige kwessie.
Nuwe boek kollig
Met my honde: ‘n Suid-Afrikaner se vlug uit Oekraïne is die aangrypende verhaal van Kobus Olivier se dramatiese ontsnapping uit die oorlog. Hy het geweier om sy honde in die oorlog geteisterde land agter te laat. Hierdie boek vertel sy verhaal.
Skrywer sake
RSG se program Skrywers en Boeke is een van my gunstelinge. Onderhoude met skrywers, wenke, boek besprekings en baie meer. Woensdagaande tussen 8 en 9nm en as jy dit gemis het, kan jy altyd na die potgooi na die tyd luister. Beslis die moeite werd.
Video kollig
’n Prag video vol wisteria blomme vanuit alle dele van die wêreld is net die ding om jou winter op te helder. Maak vir jou ’n lekker koppie Franse warm sjokolade en geniet die blommeprag.
Grapjas
’n Otter het vir groot kaskenades gesorg toe hy en ’n klompie seuns mekaar beter leer ken het. Waarskuwing: Jy gaan heerlik lag.
Musiek kollig
Ge Korsten was vir jare Afrikaans se gunsteling sanger. Geniet weer Lied van die lewe.
Inspirasie
Soms gebeur slegte dinge met ons waaruit later goeie dinge voortspruit soos in die geval van Santi Britz van Potchefstroom wat in haar huis verkrag is terwyl haar man in die hospitaal teen kanker gestry het. Terwyl Santi probeer sin maak het uit die sinnelose het ’n student vir haar ’n plastiek eendjie gegee. Hierdie eendjie het haar baken van hoop geword en nou gee sy hoop en ondersteuning aan ander slagoffers van verkragting.
Diere sake
Ontmoet Bella die eerste hond ter wêreld wat gekanselleer is oor haar voorkeure. ’n Vreemde storie
Bybel vers
MATTEUS 6:21 AFR83
Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees.
Vinnige Resep
Franse sjokolade drankie
500 mℓ volroom melk
100 gram donker sjokolade (70% kakao)
1 tot 2 kaneel stokkies
Knippie sout
Knippie suiker
Vanielje geursel
1 teelepel cocoa poeier
- Maak die melk warm teen medium hitte saam met die kaneel stokkies en vanieljegeursel.
- Sodra die melk kookpunt bereik draai die plaat af en laat liggies prut vir 10 minute sonder deksel.
- Sit die plaat af en haal die kaneel uit. Voeg die kakao by en roer goed.
- Gooi die melk deur ’n sif en spoel die pot uit.
- Gooi die melkmengsel terug in die pot en sit weer die plaat aan.
- Voeg die sout, suiker en opgekapte sjokolade stukkies by en roer totdat die mengsel glad en sonder klonte is.
- Haal van stoof af en gooi in mooi glasbekers. Drink warm.
scrapydo2.wordpress.com
2 July 2023 at 9:26 amKobus Olivier se boek gkoop en gelees. Aangrypend en tragies. (Titanic se sink is in 1912 gewees nie 2012 nie!)
Amandaskrywer(Aduppie)
2 July 2023 at 2:11 pmOops! Die fout is reggestel. Dankie dat jy my daarop gewys het. Bly jy het die boek gelees. Fassinerend