My gunsteling winkel
My gunsteling winkel is my plaaslike Biblioteek. Hulle verkoop 2dehandse boeke vir ’n appel en ui. Tydskrifte ook. Daar is ou kursus handleidings, biografieë, selfhelp boeke, historiese boeke – sommer iets van alles. Sommige mense trek hulle neuse op vir gebruikte boeke. Ek hou egter daarvan veral wanneer daar aantekeninge in die boeke is – dit gee my ’n idee wat die vorige eienaar daarvan gedink het.
Meeste boeke is onder R30
Dis ’n absolute winskoop! Ek het al boeke by die Biblioteek gekoop wat lankal uit druk uit is en steeds gesog is. Ander kere weer kry ek boeke waarvan ek nog nooit gehoor het nie en dan prikkel dit my belangstelling. My totale inkopies het my R70 gekos vir 8 boeke. Ek is so opgewonde soos ’n kind wat ’n pak lekkers gekry het. Hier is 3 voorbeelde van die boeke wat ek gekoop het by my gunsteling winkel.
Die nuwe tweetalige brieweboek (1956) R10
Die titel het my aangetrek. Ek was al verskeie kere in die netelige posisie wanneer ek ’n brief in Engels moes skryf en dan die regte woorde en taalgebruik moes navors. Hierdie boek wys die Afrikaanse en Engelse weergawes en vertel die regte manier. Nouja, ek hou van briewe skryf so ek gaan beslis hiervan gebruik maak alhoewel sekere woorde bv. met hoogagting nie eintlik meer gebruik word nie.
Networking for people who hate networking (2010) R15
Die boek het my aandag getrek juis omdat ek nie goed is met verkope en bemarking nie. Dis nie my sterk punt nie. Ek was nuuskierig toe ek die titel sien. Dis vir introverts geskryf. Ek is opgewonde om die boek te lees en te sien of ek iets kan leer dááruit.
Moderne Afrikaanse Verhaalkuns (1962) R2
Hierdie bundel is in 1962 gepubliseer met verskeie van Sudi Afrika se grootste skrywers se werke waaronder Uys Krige, Boerneef, Alba Bouwer en Jan Rabie. Hulle word die jongeres genoem. Dis eintlik ’n baie waardevolle en insiggewende boek. Benewens die kortverhale word elkeen ontleed en bespreek. Die uiteensetting van die kortverhaal word ook blootgelê. Alhoewel sekere woord en taal keuses ietwat verouderd voorkom is dit steeds ’n kosbare kleinood.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you