My eerste grootmens werk
My eerste grootmens werk was ‘n groot stap in die wye wêreld. My Ma het ons nie toegelaat om vakansiewerk te doen nie. Sy het altyd gesê dat dit jy jou hele lewe voor jou het om te werk en dat ons dit moet geniet om ‘n kind te wees sonder die verantwoordelikhede van die grootmens wêreld. Daar was wel baie kinders in my klas en skool wat wel vakansiewerk gedoen het. Party het naweke in die hospitaal gewerk waar hulle meestal skoonmaak werk gedoen het terwyl ander til geslaan het in kafees. Ek het hulle vreeslik beny. Hulle het hope sakgeld gehad en was baie wêrelds.
Werk soek
In ons Standerd 9 (Graad 11) jaar het ons intensiewe voorligting sessies by die skool ontvang. Universiteit vooruitsigte was daar nie. My Ma was ‘n enkelouer en geld was skraps. Dus het ons gekyk na Staats instansies: Weermag, Gevangenisdiens, Polisie, Hospitale en so meer. Die keuring vir die Soldoedies was baie streng en hulle was baie ingestel op akademiese prestasies. Ek het in die 2de rondte uitgeval. Ek het by elke moontlike staatsinstelling aansoek gedoen. My Ma se denkrigting het sin gemaak: Die Staatsdiens het medies, pensioen en behuising gebied en dit het sekuriteit beteken. In vandag se dae is dit nie meer werklik ‘n opsie nie.
My eerste grootmens werk
Junie maand in my Standerd 10 (Graad 12) jaar het ek die goeie nuus per pos ontvang: “Veels geluk Amanda, jy is aanvaar by die Suid Afrikaanse Polisie”. Ek het my laaste matriek eksamen geskryf met die wete dat ek reeds ‘n werk het. Dit was gerusstellend om te weet dat ek ‘n plan het vir my lewe as ‘n grootmens. Op 9 Januarie 1984 het ek my loopbaan in die Suid Afrikaanse Polisie begin. ‘n Bang maar baie opgewonde 19 jarige meisie het haar eerste tree in die grootmens wêreld gegee.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you