Mooi en lelike Afrikaanse woorde
Welkom by Teetyd kuiers. Ontspan lekker met ‘n koppie tee en gesels saam
Mooi en lelike Afrikaanse woorde van ons mooi taal. Afrikaans is een van die mooiste tale dink ek. Daar is woorde en uitdrukkings wat uniek aan Afrikaans is. Lelike woorde is daar ook en sekeres is beslis nie in my woordeskat opgeneem nie.
Welkom by Junie se Teetyd kuier. Kry vir jou ’n sterk koppie tee, trek ’n stoel nader en gesels saam oor mooi en lelike woorde. Wat is jou gunsteling Afrikaanse woord en watter is ’n woord waarvan jy nie hou nie?
Riana Scheepers het vertel van Dusketyd en dadelik was ek aangetrokke tot hierdie mooi woord.
WAT: dus’ketyd s.nw. Soms ook deesketyd, deusketyd. Sulke tyd: Môre om dusketyd is ek weer hier. Dit was die aand net dusketyd toe hy hier aankom. Dusketyd verlede jaar het ons al reent gehad …
Dis ’n woord wat al hoe meer in my familie gebruik word – dit val tog so gemaklik op die tong.
- Koekerasie – Dis nog ’n woord met meer as een betekenis. Dit kan ’n deurmekaarspul beteken en ook verskillende koeke.
- Lekker – lekker soos ’n cracker, iets wat aangenaam is. Daar is soveel maniere waarin ons die woord lekker kan gebruik en met elke geleentheid is dit uniek. Viva lekker
Mooi woorde in Afrikaans is ’n riem onder die hart en ek geniet dit om nuwe woorde te hoor.
- Padkos vertaal in Engels na Road food – nee wat die woord padkos is net soveel beter. Padkos is so deel van die Afrikaanse kultuur – langs die pad op pad see toe of in die motor. Ons het ook padkos ingepak vir ons lang trein vakansies.
- Afrikaans maak my begeesterd (nog ’n mooi woord) om my woordeskat uit te brei. Begeesterd is net ’n ander woord vir inspirerend.
- Niksnuts of nicks in Engels (lekker lag ek nou) is iemand wat nie veel werd is nie of nie wil werk nie.
Die lelikste woord in Afrikaans het sy oorsprong uit Holland en dis die woord wat onder ’n vrou se rok in praat. In Hollands is dit nie ’n vloek of skel naam nie – in Afrikaans is dit kras en lelik. Ek verpes die woord.
My Ouma was baie gesteld daarop dat ons suiwer Afrikaans moes praat en het ons gereeld tereggewys wanneer ons Engelse woorde tussenin gegooi het. Ek het egter nie altyd by die reëls gehou nie totdat ek weer begeesterd was om Afrikaans in sy suiwerheid te gebruik. Elke dag is ’n skatkis van mooi Afrikaanse woorde – ’n geskenk
mhb14451
3 June 2024 at 4:48 pmIn my 70tigs is ek gesê om lees en skryf as breinterapie te doen. Dit het wondere gedoen. Bybel se skryfstyl en woorde het ook nou begin vonkel. Nooit geweet skryf is so lekkerkry speletjie. Henner (hinder) is my tongglad woord. Dis is van toepassing op alles wat pla. Geniet jou opinie Amanda. Groete Madeleine Louw Blignault.
Amandaskrywer
5 June 2024 at 10:04 pmDankie vir die saam kuier en dankie vir die komplimente. Skryf en lees is volgens my die beste terapie – nie net vir die brein nie maar ook vir mens se gemoed. Henner of hinder is n goeie woord – dankie vir die deel. Lees en skryf lustig voort!
scrapydo2.wordpress.com
3 June 2024 at 9:27 amEk kan met trots sê dat ek dankbaar is om Afrikaans te kan praat. Ek moes die taal aanleer op sewe jaar, my eerste skooljaar in Suid Afrika.
Amandaskrywer
5 June 2024 at 9:59 pmAfrikaans is so n lekker kuier taal. Bly dat jy dit ook so positief ervaar