Menopause is nie vir sissies nie
Ek het op die ouderdom van 51 veranderinge in my lyf begin waarneem en besef dat Menopause is beslis nie vir sissies nie
MY LYF VERANDER
Ek het nie heeltemal besef wat aangaan toe die tannie met die rooi volla besonder rooi en donker word nie en begin om ongereeld by my aan te klop nie. Soms het sy sommer 3 keer in een maand kom kuier en ander kere ‘n hele maand oorgeslaan.
VOOR DIE MENOPAUSE
Ek het jare gelede Oprah gekyk toe daar ‘n vrou was wat gepraat het oor die veranderings in jou lewe en lyf tydens menopause maar ek het met so ‘n halwe oor geluister. Dit was nog nie my beurt nie en het baie ver geklink. Nou is die tyd hier.
DIE SIMPTOME
Dit het begin met erge maandelikse rooi volla verkeer. Daarna het die slapeloosheid begin en toe die nagswete (nogals in die hartjie van die winter) en warm gloede (ek lyk soms soos ‘n bakvissie wat vir ‘n outjie ogies maak). Ek het ook soms met neerslagtigheid gesukkel
DAPPER EN STAPPER
Ek het besluit om hierdie nuwe deel van my lewe kop eerste aan te durf. Geen medisyne, geen hormoon vervanging of anti deppressante nie. Ek is op my beste nie ‘n aanhanger van medikasie vir elke skeet en kwaal nie. Ek het wel ‘n staan waaier aangeskaf vir lafenis en geleer om te Taichi, ver ente te stap en diep asem te haal.
Soms gaan dit maar haak en tak en dan maak ek my oë vir so 20 minute toe en dan voel ek sommer weer beter. Menopause is nie vir sissies maar jy kan dit oorwin!
BYT VAS
My stuk oor ‘n Lewe van dankbaarheid sal jou sommer laat beter voel
My Engelse webblad nl. Let’s make tea bied die leser nog leesstof.
Dit maak nie saak of jy met of sonder kaalvoete oor die Drakensberge gaan stap nie solank as wat jy net vasbyt. Daar kom aan alles ‘n einde – ook menopause.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you