Kosbare minute met God
Kosbare minute met God in die besige tye. Soms voel dit of daar nie genoeg tyd in die dag is vir alles wat moet gedoen word nie. Soms skeep ons onsself af – of God of albei. So in die verbygaan prewel ons ‘n paar woorde en ander tye probeer ons weer opmaak daarvoor. Altans dit is wat ek ervaar in my geestelike lewe.
Skoonmaak gee ‘n geskenk
Op ‘n dag pak ek kaste reg en kom op hierdie klein hempsak grootte boekie af. Het geen idee waar dit vandaan kom nie. Ek kan nie onthou dat dit ‘n persent was en of dit gekoop is nie. Niks aan die boekie lyk vir my bekend nie. Plat op die grond blaai ek deur die boekie en besef dit is ‘n diamant boekie. Sakpas vir my.
Kosbare minute met God
God’s minute is ‘n versameling van 365 positiewe gebede. Dit is geskryf deur Dr. Robert Schuller en is privaat gebede uit sy lewe asook gebede van ander mense. Hierdie boekie is een van my kosbaarste besittings. Elke dag se minuut gebed pas ek aan by my lewe. Dikwels is dit of die gebed vir die dag spesiaal vir my geskryf is. Die klein boekie is maklik om in my handsak te sit en saam met my te dra. ‘n Kosbare kleinnood wat my naby God hou.
Die man agter die boekie
Dr. Robert Schuller was ‘n Amerikaanse Evangelis wat vir 40 jaar lank mense gemotiveer, bemoedig en leer bid het. Hy was geliefd en bemind as die Evangelis wat hoop gegee het en nie mense veroordeel het nie. In 2010 het ‘n familie vete die familie uitmekaar geskeur en het Dr. Schuller en sy vrou alles verloor waarvoor hulle so hard gewerk het. Steeds het hy by God se voete gebly en aanhou bid. Hy is in 2015 oorlede. Die klein sakboekie met die gebede wat Dr. Schuller met soveel liefde bymekaar gesit het bring steeds hoop.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you