Julle vrae beantwoord

julle vrae beantwoord

Julle vrae beantwoord

Elke nou en dan kry ek ‘n E-pos of boodskap van ’n leser met ’n vraag vir my en dikwels word dieselfde vraag ’n 2de en selfs ’n 3de keer gevra. Vandag gaan ek bietjie gesels oor daardie vrae en my antwoorde daarop gee. Ek beantwoord graag almal se vrae so e-pos enige ander vrae na amandaskrywersa@gmail.com.

Hoeveel geld maak jy uit jou blog?

My webblad het in 2019 die lig gesien en vanaf 2019 tot en met 2024 het ek R0,00 uit my webblad gemaak. Ek het ook geen advertensies op my blad nie en verkoop niks nie. My webblad is ’n passie en ’n stokperdjie en dis hoe ek dit verkies. Sodra mens gedryf word om geld uit jou webblad te maak verloor dit sy sprankel. Dis net my opinie.

Die boek wat jy oor gepraat het, is uit druk. Kan jy asb. ’n kopie van die boek maak en vir my e-pos?

Ek is bly jy hou van die boek en ek hoop jy kan dit iewers 2de hands in die hande kry. Probeer Kakkerlak boekhandel – hulle spesialiseer in 2de handse boeke. Jammer, maar ek kopieer nie boeke nie. Dis teen die kopie wet en ek respekteer die werk van ander skrywers.

Wie doen jou blog en wat kos dit?

Ek doen self my webblad. Alles. 100% daarvan is my eie handewerk. Die domain moet elke jaar hernu word en dit kos R210 per jaar. Verder maak ek gebruik van gratis “open source” sagteware soos wordpress waarop my webblad gebou is.

Is jy ’n gekwalifiseerde joernalis?

Gekwalifiseerd met ’n Graad is ek nie. Ek het my voet in die deur gekry met ’n internskap by ’n plaaslike koerant en het later ’n joernalis pos by ’n opkomende ponie koerant gekry en ook vryskut begin skryf. Deesdae skryf ek vir myself en enige een is welkom om my skryfsels gratis te lees.

Wat is skryf terapie en hoe werk dit?

Skryf terapie lê my na aan die hart. Dit is soos om ’n terapeut heeltyd saam met jou te hê. Skryf is werklik terapeuties en help jou om uiting aan jou gevoelens te gee veral wanneer jy trauma in jou lewe ervaar en sukkel om dit te verwerk. Lees gerus die boek Om tot verhaal te kom wat handel oor Skryf terapie. Jy hoef geen opleiding of ondervinding te hê nie en jy skryf vir jouself dus kan enige iemand van hierdie terapie gebruik maak.

Hoekom is jy nie op sosiale media nie?

Ek hou nie baie van sosiale media nie. Dis volgens my te raserig met min diepte en baie trolle. Ek het Twitter sowel as Instagram probeer en alhoewel ek volgelinge opgebou het, het ek dit afbrekend ondervind. Alhoewel ek ’n persoonlike Facebook het, gebruik ek dit slegs vir familie, vriende en kollegas om in kontak mee te bly.

Webwerwe is lankal al uit die mode? Hoekom  het jy ’n webblad en nie ’n Facebook-blad nie?

Dit is ’n vraag wat ek al so baie gevra is. Facebook is ’n diensverskaffer en hulle besit alles wat jy op Facebook plaas. Indien Facebook tot niet sou gaan, verloor jy al jou werk en volgelinge. Wanneer jy jou eie webblad het, is jy in beheer van alles en kan niemand dit van jou af wegvat nie. Dis nie net Facebook nie, maar alle diensverskaffers.

Ek sien jy is ’n christen so jy sal mos nie omgee om vir my ’n paar rand te leen nie?

Dit is weliswaar so dat ek ’n Christen is en ek is trots daarop. Ek leen egter nie geld vir mense nie jammer.

Waar het jy geleer skryf?

Ek het Letterkunde as skoolvak gehad waar ek baie geleer het rondom skryf, taalgebruik, idiome en so meer.  Twintig jaar gelede het ek werk gekry as ’n joernalis met ’n internskap waar ek in diens opleiding ontvang het. Verder het ek kort kursusse gedoen in rubriek en artikel skryf asook nie-fiksie.

Wat en hoeveel het ek nodig om my eie webblad te begin?

  • Die kostes is minimaal om jou eie webblad te begin.
  • Koop jou eie domain naam  – ongeveer R210 vir ’n .com domain en R120 vir co.za
  • Laai wordpress gratis af en installeer dit op jou domain – volg die instruksies
  • WordPress het baie plugins wat jou webblad meer effektief kan maak.
  • Canva is ’n goeie platform om jou eie illustrasies mee te skep. Hulle het ’n gratis afdeling en ek vind dit  heeltemal voldoende vir my behoeftes.
  • Pixabay het gratis illustrasies en foto’s wat jy mag gebruik sonder om iemand se kopiereg te skend
  • Dokumenteer alles wat jy doen en hou tred met jou vordering. , ’n Spreadsheet kan baie hiermee help.
  • Elke artikel skryf ek eers op word en stoor dit op my rekenaar voordat ek dit op my webblad plaas.

Jy dink jy is beter as ander. Ek skryf baie beter as jy

Almal behoort te skryf. Dis lekker en terapeuties. Dalk moet jy ook vir jou ’n webblad begin sodat ander ook jou skrywes kan lees. Sterkte.

4 Comments

  1. chrisnalemmer

    3 March 2024 at 4:28 pm

    Vreemde vrae…Ek is eintlik verstom.
    Baie dankie vir die lekker-lees artikels en stories, Doen so voort!

    1. Amandaskrywer

      9 March 2024 at 10:24 pm

      Ja soms rol ek my oë vir die vrae. Bly jy geniet die stories en artikels. Dankie vir jou ondersteuning.

  2. Elsabé Welman

    26 February 2024 at 9:11 am

    Goeiste… wat ‘n klomp persoonlike aanmerkings en vrae. Jy het goed geantwoord.

    1. Amandaskrywer

      29 February 2024 at 8:44 pm

      Dankie.Soms byt ek op my tong en haal diep asem. Gelukkig is die meeste mense egter respekvol in hulle vrae en opmerkings.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.