Indien ek dinge kon oordoen

indien ek dinge kon oordoen

Indien ek dinge kon oordoen sou ek baie dinge dieselfde gedoen het, ander heeltemal anders hanteer het en ander ietwat verander het. Wanneer mens 18 is dink jy anders oor dinge as wanneer mens 50 is. Dit kan ‘n goeie of ‘n slegte ding wees afhangende van watter kant jy daarna kyk.

Dit sou ek anders gedoen het

  • Ek het nie goed na myself omgesien nie en oorgewig geraak. Dis iets wat ek beslis sou verander het op 18. ‘n Gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees.
  • Ek sou nee sê sonder om te verduidelik.
  • Meeste van die tyd het ek nie myself vertrou om die regte besluite te neem nie. Ek het heeltyd aanvaarding by ander gesoek. Vandag ken ek my waarde en weet ek – ek is genoeg.
  • Ek sou beter na my huis omgesien het – dis my koninkryk en my hawe waar ek veilig en geborge voel. (Dit het my lank geneem om my huis op te knap omdat ek nagelaat het om na my huis se behoeftes om te sien)

Ek sou sekere dinge dieselfde gedoen het

  • Ek sou steeds belê het in boeke – lees bly een van my groot liefdes.
  • Skryf, skryf, skryf
  • Na my man se dood het ek ‘n huis gekoop – beste inkopie
  • Ek het God as my verlosser aanvaar in my kinderjare en alhoewel ek hier en daar ietwat lou was in my geloof, het God my nog nooit in die steek gelaat nie.

Dieselfde met ‘n bietjie verandering

  • Ek sou steeds met dieselfde man getrou het, maar nie op 19 nie. Vyf jaar later sou ‘n groot verskil gemaak het in ons albei. (Hy was net 21) Ons was jonk en onkundig oor die lewe en kinders groot maak.
  • My skryfwerk sou ek vroeër na die voorgrond gebring het. Dit bly steeds ‘n jammerte in my dat ek nie vroeër reeds my skryfwerk ernstig opgeneem het nie.

Wat van jou? Sou jy iets anders gedoen of hanteer het? Is jy gelukkig met jou besluite? Gooi ‘n briefie in die posbus of los ‘n boodskap.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.