In ‘n oogwink kan jou lewe verander

In ‘n oogwink kan jou lewe verander. Verwag die onverwagte. Die lewe verander aanhoudend en soms krap dit ons planne deurmekaar. Ons wik maar God beskik het my Ouma altyd gesê. Die laaste 7 jaar was uitdagend vir ons familie.

2017 was ‘n jaar met onverwagte uitdagings

Twee maande voor my ma se 80ste verjaarsdag het my ma duiselig geraak en geval met haar ken teen die vensterbank. Sy het tydens die val in ‘n woonstel in die ouetehuis gewoon. Alhoewel sy niks gebreek het nie, het sy “wiplash” opgedoen wat haar tydelik buite aksie gelaat het. Sy het vir die 2 maande voor haar verjaarsdag by my kom aansterk waarna sy weer terug is na haar woonstel.

Daarna sou sy nog telkemale val

Elke nou en dan sou my suster bel met die nuus dat my ma weer geval het. Niks gebreek nie. Dankie tog. Na ‘n ruk van bedrus sou Ma weer opstaan en aangaan en ons weer ons asem terug kry. Ma kan soms baie hardkoppig wees. Ons sou met haar praat oor die los matjies in haar huis. “Sit die lig aan wanneer Ma badkamer toe gaan asb.” “Dra die nood knoppie om Ma se nek”. Ma laat haar egter nie vertel nie.

En toe kry ons ‘n oproep in 2022 van my suster

Ma is baie siek. Sy weet nie wat om haar aangaan nie. Dadelik spring ek in my motor. Ons Ma is deurmekaar en ontwater. Na 2 weke in die hospitaal was dit duidelik dat Ma nie meer in haar woonstel in die ouetehuis kan bly nie. Ons het gedink dis die einde en het haar na my suster-hulle se plaas geneem waar ons haar gemaklik gemaak het. Ons swart rokkies gereed. Na 6 weke was sy weer op die been – swak maar weer aan die woel en werskap.

Elke maand sou ek deurry om my suster af te los

Soos my Ma sterker geword het, het haar hardkoppigheid weer sterk begin kop uitsteek. Los matjies orals. Sy loop in die donker badkamer toe want sy spaar krag. Spaar ‘n sent en voor jy weet het jy ‘n rand. My suster is 3 ure se ry van my af en na 2 jaar van reis om na Ma te kyk wanneer my suster wou weggaan was ons fut ietwat uit. Ma se energie vlakke was egter op ‘n hoogtepunt. Sy het tuin gemaak, naaldwerk gedoen en baie tyd saam met haar lewensmaat van die afgelope 2 jaar deurgebring. ‘n Kat met die naam Sara. Sara was eens ‘n stoorkat op die plaas. Ma het haar bevorder tot huis kat. Sara eet biltong en slaap in Ma se arms. “Dis Sara se stoel. Sit op die mat”. Nou toe nou. Ma se dogter vervang deur Sara die kat.

Oktober is oestyd op die plaas

In die middel van oestyd 2024 (25 Oktober 2024) het ek vir ‘n naweek plaas toe gegaan om my Ma rond te ry en dinge saam met haar te doen terwyl die plaas op sy besigste is. Ons het vir die dag Witsand toe gery en gaan piekniek hou by die see, dorp toe gegaan en sommer net tyd saam deurgebring. Dinsdag middag (29 Oktober 2024) het ek teruggery huis toe. Die tyd van aankoms was 15:30. Woensdag oggend net na 5 die oggend kom die boodskap deur.

Ma het geval en haar heup gebreek

Wat! Dis dan skaars 12 ure na my terug keer huis toe. Hierdie besering is anders. Ma het al baie geval maar nog nooit iets gebreek nie. My tas is nog nie eers uitgepak nie. Weg is die moegheid. Ma moet by die hospitaal kom en die pad dorp toe is ‘n grondpad vol gate en dit reen. Na 4 ure is Ma by die hospitaal. Dankie Transmed vir die spesiale ambulans. Ek sit die ketel aan. Ek moet nou koffie in my lyf kry. Nie so vinnig nie Amanda. Die plaaslike hospitaal kan haar nie help nie. Sy moet Worcester toe. Heup vervanging. Sy oorleef. Operasie is suksesvol. Geen tyd vir herstel. Sy word binne 3 dae ontslaan al kan sy nie beweeg nie. Wat nou?

In ‘n oogwink kan jou lewe verander

Bring haar na my toe laat ek hoor. Ek bly in die dorp met goeie medici rondom my. Ons kry vir haar plek in ‘n rehabilitasie kliniek (vir beseerdes) waar sy vir ‘n week bly ten duurste. Mediese fonds betaal net die Physio, nie die hospitaal nie. Na ‘n week is dit duidelik dat sy baie hulp nodig het en dat ek haar nie alleen sal kan versorg nie. Altans nie nou nie. Sy is 87 jaar oud en sy sukkel om met die loopraam te loop. Dra doek en kan nie haarself aantrek nie. Ons kry vir haar plek in die versorgingsoord waar hulle haar tydelik versorg vir 30 dae of dalk langer. Ek besoek haar 2 keer ‘n dag. Borsel haar tande en smeer haar seer lyf met room. Ons gaan stap elke dag en kyk na die mooi tuine.

“Ai my kind, ek weet nie of ek weer hier gaan opstaan nie”. Ek weet ook nie maar Ma is die “ comeback kid” vir die laaste 7 jaar al.

Kuier verder

  • Die Naguil is ‘n gratis aanlyn koerant wat maandeliks op die webblad verskyn.
  • We also publish original articles, stories and opinions in English
  • Kosreise is ‘n webblad met resepte en reis stories

3 Comments

  1. scrapydo2.wordpress.com

    25 November 2024 at 10:39 pm

    Ek stem saam dat alle eer aan God toekom vir die genade om na jou moeder te kyk. Ek kan ook vertel van my ma wat ook op einde ons as kinder nodig het om haar by te staan en te help. Sterkte vir jou.

  2. Stories Uit My Wêreld

    25 November 2024 at 9:58 am

    Die genade en geduld aan jou ma sal duisend keer terugkom na jou toe.

    1. Amandaskrywer

      25 November 2024 at 8:39 pm

      Alle eer aan God vir Sy genade en krag van Bo

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.