Grade maak mens nie slim nie
Grade maak mens nie slim nie. Sommige gegradueerdes is eintlik baie dom dink ek. Dis nou as ek so kyk na die afgelope klompie maande. Nêrens is dit duideliker as met die geleerdes by die Universiteite en in die Parlement nie. Geleerdes wat oningeligte en selfs dom uitlatings maak oor sake van die dag. Soos die geleerde Professor wat op radio die uitlating gemaak het dat Israel nie aangeval is deur duisende Hamas terroriste nie. Volgens hom was daar nie meer as 40 of 50 aanvallers nie en jok Israel oor die aanval, die dodetal en gyselaars. Die geërde Professor wat dikwels op die radio praat onderrig die jongmense – die leiers van môre.
Daar is nie pille vir domheid nie
Dis nie dat ek iets het teen gegradueerdes nie. My Ouma het ’n Onderwys graad gehad wat ongehoord was vir ’n vrou in die 1930’s. Geleerdheid het vir jou status gegee en die gegradueerde is met respek behandel. Dit was ook ’n groot verantwoordelikheid om ’n graad te hê en mense het opgekyk na jou. Ouers het graag gespog met hulle gegradueerde kinders.
Grade maak mens nie slim nie
Ek het geen graad nie – nie eers ’n vis graad in ’n raam nie. Wel, ’n diploma in Sekretarieel – wat in vandag se dae niks beteken nie. Net omdat iemand ’n papier met ’n stempel van ’n Universiteit het beteken nie hy of sy is die slimste of weet die beste nie. Voorheen is daar neergesien op mense wat met hulle hande werk – bosbouers, skrynwerkers, loodgieters, elektrisiëns en meer. Vakmanne. Die laer klas.
Vir jare is daar gesê dat die enigste pad na finansiële vryheid ’n graad is – in enige iets
Ouers het duisende rande betaal om vir hulle kinders ’n geleerdheid te verseker – en die universiteit ondervinding te gee. In te veel gevalle sit die jongmense met ’n graad waarmee hulle niks kan maak nie en tonne studie skuld. Grade in politieke wetenskap, geslag studies om net ’n paar te noem. Na Universiteit kry die kinders of nie werk in hulle veld nie of hulle stel nie meer daarin belang nie. Dis dan wanneer hulle rigtingloos die wêreld binnevaar en by die kafee op die hoek begin til slaan terwyl die graad stof vergader en die skuld ophoop.
Deesdae verdien dieselfde sogenaamde laer klas beter salarisse as die geleerde hoër klas.
My Ma het altyd gesê dat wanneer jy met jou hande werk sal jy altyd werk hê en dit is presies wat nou gebeur. My Pa het as treindrywer vir die Spoorweg gewerk en alhoewel ons nie luuks gelewe het nie het ons ’n eie huis en kos op die tafel gehad. Die slim kinders sien die moontlikhede raak in vaardigheid beroepe – vakmanskap. Die moontlikhede is baie beter as vir diegene met grade. Volgens my moet minder klem op grade gelê word en kinders meer bewus gemaak word van vaardigheid beroepe waar hulle in diens opleiding kan ontvang en hulle lewens sonder skuld kan begin.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you