Gister is deel van die toekoms
Rubriek
deur Amanda Spies du Plessis
Omtrent Rubrieke
Rubrieke is basies artikels waarin die skrywer sy of haar opinie met die lesers deel.
Tipes Rubrieke
- Komies
- Polities
- Aktueel
- Nostalgies
- Vakkundig
- Teetyd kuiers
Gister is deel van die toekoms. Ons verlede is onmiskenbaar deel van vandag en môre en ons kan dit nie misken of vergeet nie.
My Ma soos soveel ander oues van dae het tydens die 2de Wêreld oorlog grootgeword. Ouma en Ma het vertel hoe hulle saans die huis se vensters moes toemaak met planke sodat die vliegtuie nie die ligte kon sien nie. Die oorlog het ’n tekort aan kos en ander noodsaaklikhede soos tandepasta en materiaal vir klere veroorsaak.
Daar was erge armoede
Selfs jare na die einde van die oorlog het armoede steeds geheers. My Ma het op 15 begin werk om haar familie te help versorg. Op die ouderdom van 86 jaar haak Ma se gedagtes dikwels vas by die armoede, een paar skoene wat om die beurt tussen 2 kinders gedra moes word, honger dae, en hoe my Ouma gesukkel het om meel in die hande te kry om beskuit te bak sodat dit verkoop kan word en dan het Daisy die koei se melk ook nog opgedroog. Ellendes op ellendes.
Ma steek geld weg en dan vergeet sy waar sy dit gesit het. Sy was die waspapier waarin my suster vir haar kouevleis gebring het want daar is weer ’n oorlog aan die gang. “Julle moet spaar en hergebruik my kind. Dis net ’n kwessie van tyd dan kom die oorlog hierheen en dan is daar weer nie kos en tandepasta nie”.
Sy raak beangs wanneer die winkel nie sout en meel het nie en dit maak nie saak dat die voorraad in die stoor is nie. Dis hoe dit begin het tydens WW2 en dit gaan erger word. Sy draai die botteltjie vrugtesap toe – sy sal môre of so weer ’n sluk neem. Alles moet nou spaarsamig gebruik word. Sy tel haar geld oor en oor – die sente ook want elke sent maak ’n Rand.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you