Ek het weer my asem terug gekry
Ek het weer my asem terug gekry. Die afgelope 3 maande was mal verby. Van Oktober 2023 tot 16 Januarie 2024 het my voete nie grond geraak nie. Eers het ek my jongste suster in Pretoria gaan versorg vir 2 weke na ’n knie operasie en met my terugkeer het ek Kersfees koekies gebak en vir die kleinkinders ’n twee dag Kersfees oorslaap gegee met presente, Kersliggies, kers aktiwiteite en lekker kinder kers kos en poeding.
Na die kleinkinders weg is, het ek 1 dag gehad om die huis reg te trek en skoon te maak.
Die dag daarna is ek vir 2 weke lank na Swellendam om na my Ma te kyk terwyl my plaas suster en haar man met vakansie is. Ek en my Ma het Kersfees en Nuwejaar op die plaas gevier met ’n tradisionele Kersfees soos ons dit altyd gedoen het. Baie geëet en lekker gekuier. Daarna het sy saam met my na my huis toe gekom waar ons die volgende 2 weke saam gekuier het totdat my plaas suster haar op Sondag 14 Januarie kom haal het.
Dinsdag 16 Januarie het ek die kleintjies vir die dag see toe geneem
Terwyl my Ma by my gekuier het moes ek noodgedwonge die aktiwiteite met die kleintjies inperk en om op te maak daarvoor het ek ’n piekniekmandjie gepak en met hulle by die see gaan kuier voor die skole weer begin het. Met tye in hierdie 3 maande moes ek soms hard met myself praat sodat ek bymekaar kon bly. Wanneer kom Mamma die kinders haal? Het my oudste dogter benoud en bekommerd gevra toe ek vergeet het om die kinders te gaan haal vir ’n beplande kuier. Ek het nuwe respek gekry vir voltydse versorgers van oumense. Dit kan met tye baie veeleisend wees en selfs ek (wat tonne geduld het) moes met tye op my tong byt.
Ek het weer my asem terug gekry
Gelukkig het almal oorleef en kan ek ook weer asemhaal. Alhoewel ek hard moes werk om alles weer reg en op hulle plek te kry, kan ek uiteindelik weer begin aandag gee aan myself, my skryfwerk en my leefwyse. Ek hou van stadig lewe, Taichi, kos maak, lees en kreatiewe dinge doen en sien uit daarna om weer teen my eie (stadige) pas te lewe.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you