Ek het ‘n boks televisie
Ek moet bieg: My naam is Amanda en ek het ‘n boks televisie. Dankie tog, dis nou uit in die ope.
In 1975 het Suid Afrika vir die eerste keer Televisie uitsendings verwelkom. Ek was 10 jaar oud en dit was ‘n vreemde besigheid. Die radio het toe nog alles oorheers. My Ma het altyd gesê ek het ‘n hart/long masjien omdat ek alewig met die radio op my skouer geloop het.
Terug na televisie. Ons het eers 4 jaar later televisie gekry. Dit was onbegryplik hoe al die mense in die kassie kon pas. (Ja die kinders by die skool het dit vir my vertel). Dit was jare voor die Internet, dus was dit nie so maklik om feite na te gaan nie. Ek onthou nog die dag toe ons televisie gekry het. Sy het die televisie tydens skooltyd gaan koop en toe ons van die skool af terugkom was hierdie blink nuwe boks televisie op ‘n kas in die sitkamer. Ons het in verwondering daarna gestaar. Die televisie het ‘n hout omhulsel gehad en het net van 6 tot 12 saans uitgesaai. Nostalgie.
Ek het nog steeds ‘n boks televisie
Deur die jare het ek twee nuwe televisies gekoop waarvan die laaste ene in 1994 was en hy werk steeds. Mense vra my gereeld oor my televisie en die gebrek aan ‘n plat skerm televisie. Ek het al oorweeg om ‘n nuwe verbeterde ene te koop en dan dink ek weer daaraan dat die ou ene niks makeer nie. Ek het nie DSTV nie en kyk net hier en daar iets op SABC. Die ding is, ek het ‘n DVD speler vir wanneer ek ‘n fliek of so iets wil kyk. Verder kyk ek YouTube video’s. Ek lees of skryf meeste van my ontspannings tyd en wanneer ek regtig iets wil kyk doen ek dit op my skoot rekenaar. Miskien eendag.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you