Die werk waarin ek swak gevaar het

Die werk waarin ek swak gevaar het

deur Amanda Spies du Plessis

Omtrent tydskrif artikels

Tydskrif artikels gee perspektief, konteks en vertel die storie agter die skerms.

Tipes tydskrif artikels

Die werk waarin ek swak gevaar het, was eiendomsagent. Na my Polisie loopbaan wou ek iets anders doen en het besluit om eiendomme te verkoop. Dit was kort na my man se dood en nadat ek van Kimberley verhuis het met twee klein kindertjies van 5 en 3 jaar oud.

Ek wou so veel as moontlik tyd saam met my kinders deurbring en eiendomsagent het geklink na ’n goeie plan. Aangesien ek op kommissiebasis sou werk het ek gedink dit sou my laat met genoeg fleksietyd om by my kinders te wees.

Ek was in vir ’n groot skok. Daar is ’n groot verskil tussen staatsdiens en privaat sektor. Alhoewel ek slegs kommissie sou kry, was die fleksietyd ’n mite. Ons moes basiese kantoorure werk asook skouhuise doen, seminare bywoon en die maatskappy by skoue ens. verteenwoordig – sonder enige vergoeding. Ons het wel etes ontvang. Tydens een van die seminare het hulle ons vertel hoe om ’n kontrak met ’n verkoper en koper te sluit.

Ons mag nie foute uitgewys het nie, maar moes wel eerlik wees indien iemand sou vra. Daar was ook van ons verwag om mense te druk vir verkope. Dapper soos ’n muis het ek my nuwe werk aangepak en gou agtergekom dat eiendomsagent nie vir my was nie.

Ek moes ’n huis gaan opskryf van twee bejaardes. Ek was toe reeds 2 maande by die maatskappy met geen verkope nie – ons was 3 maande gegee as proeftydperk dus was hierdie my groot kans. Daar aangekom het ek twee desperate mense aangetref. Oor ’n koppie tee het die Tannie vertel dat hulle dogter in geldelike probleme is en  dat sy dringend R110 000 nodig het anders kan sy tronk toe gaan. Dit was die soveelste keer en elke keer het die ouers haar gehelp. Hierdie keer kon hulle egter nie die geld bymekaarmaak om hulle dogter te help nie – die enigste uitweg was om hulle huis te verkoop.

’n Eenvoudige dog netjiese huis met ’n pragtige tuin. Dit was hulle enigste vaste eiendom. Hulle neseier vir hulle oudag.

Ek kon myself nie sovêr kry om die kontrak te sluit nie – dit het teen my waardestelsel ingedruis en ek het dit vir die ouers gesê. Die Tannie het in trane uitgebars.

Ek is daar weg sonder ’n kontrak. Terug by die kantoor was die Bestuurder woedend en het my onmiddellik afgedank.

Jare later sou ek die Tannie weer sien in ’n winkel. Sy het my herken. Ek was te bang om te vra en sy het na my toe gestap. Die Oom is ’n paar maande na die voorval oorlede en sy is steeds in haar huis. Dieselfde dag dat ek geweier het om ’n kontrak met hulle te sluit het een van die ander eiendomsagente teruggegaan om hulle huis op te skryf.  Die oues het egter besluit om nie meer hulle huis in die mark te sit nie en het hulle Predikant om raad genader. Die kerk het hulle en die dogter bygestaan sonder om geld te gee. Haar dogter het ’n opgeskorte vonnis gekry en het haar lewe omgekeer vir die beste – en die Here gevind. Dit was die beste nuus ooit.

Hiermee wil ek nie voorgee dat eiendomsagente skelm is nie. Daar is baie goeies daar buite. Dis net nie iets waarmee ek goed is nie. Verkope en Bemarking is nie my sterk punte nie.

4 Comments

  1. scrapydo2.wordpress.com

    17 July 2023 at 8:45 am

    Nee wat, hoe kan sulke geldjagters met hulself saamleef. Jy het beslis sterk gestaan in jou menslikheid.

  2. elsabeskryf

    17 July 2023 at 8:24 am

    Nee, jy het jou hart laat werk. Jy het nie swak gevaar nie, jy was by uitstek die beste werknemer van die jaar.

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.