Daar is ‘n plek en ‘n tyd vir alles

daar is 'n plek en 'n tyd vir alles

Daar is ‘n plek en ‘n tyd vir alles en soms is stilte die plek. Soms is dit jou plek en tyd om jouself te laat hoor en soms is dit beter om bietjie te wag.

Dis hoe dit was

In my tienerjare moes ek noodgedwonge geduld aanleer. Ek was die middelste kind en ek moes wag totdat ek in Standerd 8 was voordat ek mag grimering dra het. Ek mag ook nie ‘n kêrel gehad het voordat ek in matriek was nie. Daardie jare was dinge baie tradisioneel en het ons Ouers die grootste invloed op ons lewens gehad, anders as vandag waar die kinders se grootste invloed die Internet en sosiale media is.

Dis hoe dit nou is

Met die jare het dinge baie meer spoed aangesit, so ook mense se opinies wat vrylik gegee word en te dikwels sonder enige nagevolge.

Daar is ‘n tyd en ‘n plek vir alles

Deur die jare het ek ‘n paar lesse geleer soos die dag wat ek vir ‘n vriendin wat al 7 jaar getroud was in geselskap gevra het wanneer gaan hulle nou eendag begin met kinders? Sy het in trane uitgebars en die vertrek uitgestorm. Ek is agterna en deur haar trane moes ek hoor dat sy nie kon kinders hê nie en dat haar man nie wil kinders aanneem nie. Les geleer daai dag is dat mens nie vir iemand in geselskap so ‘n sensitiewe vraag vra nie.

‘n Ander keer het iemand kort na my man se dood vir my gevra wanneer ek nou eendag gaan ophou huil oor hom. Volgens haar moes ek al aanbeweeg het. Dis tog al 7 maande. Wat ‘n onsensitiewe en ongevraagde opmerking. Daar is geen spesifieke tydperk vir rou nie. ‘n Drukkie sou beter gewerk het of stilte.

Die pyn wat onnadenkende woorde kan hê

Een keer tydens ‘n selgroep aand het die gesprek op gay mense uitgeloop. Weereens ‘n sensitiewe onderwerp. Ek het nie saam gestem met die trant van die gesprek nie (wat gay mense as onchristelik, fratse, duiwels uitgebeeld het), maar nogtans niks gesê nie terwyl ek die vrou oorkant my se gesig sien verander het. Daar was pyn in haar oë. Sy het verskoning gemaak en gery. Die volgende dag het ek na haar toegegaan en oor die vorige aand gepraat. Sy het my vertel dat haar enigste seun gay is en dat weens die selgroep gesprek het sy nie die vrymoedigheid gehad om weer soontoe te gaan nie. Ek het myself kasty dat ek nie daardie aand opgestaan het en ‘n standpunt ingeneem het nie.

Daar is ‘n tyd en ‘n plek vir alles

Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.