Corona dagboek week 12
Corona dagboek week 12: Sondag 31 Mei 2020 tot Saterdag 6 Junie 2020
Sondag 31 Mei 2020
S.A. Infeksies: 32 683 Sterftes: 683
Dis my enigste rusdag in die week en ek sukkel om tot ruste te kom. Ek loop op en af in die huis, skuif hier reg, tel ‘n ding op. My voorhuis is nogal baie deurmekaar met al my gewerk gister, maar ek dwing myself om op ‘n Sondag rustig te wees. Dis deel van ‘n balans handhaaf. Ek het dit wel reggekry om buite in die son my tee te drink sonder om iets anders te doen.
DANKBAAR
- Die stilte van ‘n Sondag
- Die singende voëltjies in my tuin
- Aartappels gebak in die oond en bedruip met marmite
Maandag 1 Junie 2020
S.A. Infeksies: 34 357 Sterftes: 705
Na Saterdag se harde werk in die kombuis, was dit tyd om als terug te dra en weer als op sy plek te kry. Die kombuis en waskamer met gepaardgaande spens het my heeldag besig gehou en alhoewel die ou lyf seer is vanaand is ek tevrede en gelukkig met my harde werk.
SKATTEJAG
Ek het al lankal agtergekom dat daar ‘n muis of twee in my kombuis is want die mis bolletjies in my spens en agter my yskas verraai die klein derduiwels. Ek kon egter nog nooit uitvind waar hulle skuil nie en aangesien ek nie ‘n moordenaar is nie, stel ek nie “traps” nie. Einde ten laaste het ek ten duurste ‘n vanghok gaan koop sodat ek hulle kan vang en vrylaat. Na twee weke is die hok egter steeds leeg. Vandag het ek egter agtergekom waar hulle skuiling is. Tydens my vreeslike skoonmaak sien ek toe een van my kaste in die kombuis se vloerplank het ‘n duidelike gat in… nou het ek die vanghok geskuif en hoop ek om die karnallies te vang.
DANKBAAR
- ‘n Silwerskoon en nuut geverfde kombuis
- Varkworsies en spaghetti
- Melk koffie
Dinsdag 2 Junie 2020
S.A. Infeksies: 35 812 Sterftes: 755
Verf en nogmaals verf is wat ek vandag gedoen het. Ek het ‘n goeie blik verf gekoop toe ek my kombuis oorgedoen het 2 jaar gelede. Dit was veronderstel om ‘n grys te wees maar dis toe ‘n grys met ‘n skakering van lilac wat toe glad nie by my kombuis se wit en grys kleur skema gepas het nie. Ek moes dus ‘n ander blik verf gaan koop en die lilac het in die motorhuis stof vergader tot vandag toe. Die lilac pas perfek by nuwe sitkamer en bring ‘n warmte na die sitkamer sonder dat dit te donker lyk en voel.
DANKBAAR
- ‘n Ou vergete blik verf wat lewe bring na my nuwe sitkamer
- Melk koffie
- Millie wat met haar teddie op die bank speel
Woensdag 3 Junie 2020
S.A. Infeksies: 37 525 Sterftes: 792
Ek het besluit om dinge ‘n bietjie rustiger te vat vir die volgende paar dae. Die laaste paar weke het ek so hard gewerk in my huis en tuin en nou gaan ek bietjie af vat tot volgende Maandag waarna ek dan met my boekrakke sal begin.
Moeder
My liewe Moeder sukkel nog met die tablet of plaat soos sy dit noem. Sy druk knoppies en kom by plekke uit wat ek nie eers weet bestaan nie. Tog elke nou en dan kry sy ‘n foto of video gekyk. Ten minste is haar gemoed sommer stukke beter na die plaat geskenk.
DANKBAAR
- Aspersie tert -‘n familie gunsteling
- ‘n Nuwe baba is oppad in die familie
- My Ma ‘n vrou van formaat
Donderdag 4 Junie 2020
S.A. Infeksies: 40 792 Sterftes: 848
Die kleintjies het al vroeg gebel om te hoor hoe laat ek hulle pakkies aflewer. Dis ‘n hoogtepunt van hulle week. Hulle wil tog so graag by my kom kuier en hopelik is dit nou nie meer te lank voordat ons weer kan lego’s bou en koekies bak nie. Ons mis mekaar.
DANKBAAR
- My kleinkinders se vreugde wanneer ek Donderdae hulle liefdes pakkies aflewer.
- Lang staptog met my getroue Millie
- Vars vrugte
Vrydag 5 Junie 2020
S.A. Infeksies: 43 434 Sterftes: 908
Dit voel soos somer vandag met 29 grade hier by ons. Mens sal nie sê dis veronderstel om winter seisoen te wees nie. Ons moet seker nie kla nie – sonnige weer laat dinge vroliker en selfs gelukkiger lyk. In die winter is dit soms moeilik om uit die bed te klim en die koue aan te durf selfs met sokkies aan. Vandag sit ek en skryf met Millie langs my op die bank in die voorhuis. Dit voel half vreemd om nie besig te wees met renovasies nie. Dit het so deel van my lewe geraak in grendeltyd dat ek myself soms moet dwing om op ander dinge te fokus.
DANKBAAR
- ‘n Oond waarin ek kan geregte optower.
- Gemmerbier – weliswaar gekoop en nie self gebrou nie.
- Warm Milo
Saterdag 6 Junie 2020
S.A. Infeksies: 45 973 Sterftes: 952
My kop swem van getalle. Ek het vandag die mates uitgewerk vir die muur tot muur boekrak vir my sitkamer. More oggend is die groot dag wanneer ek die hout gaan koop. Ek laat altyd die hout by die hardeware winkel sny. Ek het nie ‘n elektriese saag nie en hulle kan dit tot op die millimeter sny. Dit verg egter konsentrasie en fyn beplanning om die mates presies uit te werk vir die groot velle hout om die maksimum snye te kry. Dis vir my baie terapeuties om so iets te doen en veral in die grendeltyd.
DANKBAAR
- My projek vorder van papier na hardeware winkel
- Koejawels met ongegeurde joghurt
- Ek kan vrylik asem haal
Gesels saam
- Gaan na my Posbus bladsy
- Los ‘n boodskap
- Stuur ‘n e-pos
- Teken in op my Nuusbrief en bly op datum
- Besoek my Engelse webblad Let’s make tea vir nog meer artikels.
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you