Almal wil ‘n boek skryf
Almal wil ‘n boek skryf
Almal wil ’n boek skryf lees ek nou die dag in ’n artikel. Blykbaar is dit meeste mense se geheime wens.
Elkeen het ’n storie
Jare gelede tydens ’n episode van Oprah het sy mense sonder vooraf waarskuwing gevra om op te staan en dan het sy die stelling gemaak dat elkeen ’n storie het om te vertel. Sy het dan die persoon gevra: “Wat is jou storie?”. Meer as een persoon het dan te kenne gegee dat hulle nie eintlik iets het om te sê nie. Oprah sou dan haar vraag herhaal en dan het die persoon begin vertel. Sommige se stories was hartseer, ander was verhale van sukses, deursettingsvermoë en so meer.
Oprah het nie gesê almal moet ’n boek skryf nie
Sy wou daarmee wys dat daar ’n storie in elkeen van ons is en dat elkeen se storie belangrik is. Die skrywer van die Harry Potter reeks JK Rowling het vertel hoe sy die eerste boek geskryf het. Ek was verstom oor hoeveel beplanning sy daarin gesit het – haar boeke is immers elkeen ’n dik bundel vol intriges. Alhoewel ek nie ’n groot behoefte het om fiksie te skryf nie kan ek my verwonder aan die hele proses van stories uitdink, dit formuleer en skryf. Nie-fiksie skrywers het reeds die storie, hulle moet dit net aantreklik verpak sonder om feite in te boet en sodat ander dit wil lees.
Almal wil ’n boek skryf
Tydens ’n boekbekendstelling van Chris Karsten het hy gesels oor die proses van boek skryf van begin tot publikasie. Chris het beklemtoon hoe baie deursettingsvermoë jy nodig het om ’n boek te skryf, te proeflees, te herskryf en weer te proeflees. Dit neem ook tussen 18 maande tot 2 jaar vandat jou boek aanvaar is totdat dit gepubliseer word. ’n Dame het tydens vraag en antwoord opgestaan en haar misnoeë te kenne gegee oor die langdradige proses. Sy wou nog altyd ’n boek skryf en het gemeen dat dit belaglik is om deur soveel kanale te gaan. Daar en dan het sy besluit dat dit te veel moeite is om ’n boek te skryf. Sy het nie bekend gemaak of sy fiksie of nie fiksie wou skryf nie.
Ek geniet dit om elke 6 – 12 maande die Top 20 boeke van die verskillende boekwinkels en uitgewers te sien.
Meeste van die tyd oorheers Deon Meyer die Top 20. Dit is net insiggewend om te sien hoeveel van elke boek verkoop is. Deon se verkope is altyd verreweg meer as die res. Daar is soms mense op die lys waarvan ek nog nooit gehoor het nie en dan prikkel dit my belangstelling. So het ek al skrywers ontdek waarvan ek dalk nooit andersins sou weet nie. Die Afrikaanse boekverkope vir 2021 het Deon Meyer as topverkoper gesien met die verkoop van 11 226 boeke oor ’n 12 maande tydperk. In die tweede plek was Na ’n plaas in Afrika deur Irma Joubert met 7 202 verkope. Daarteenoor was Chanette Paul se boek Marilyn in die 20ste plek met 2 617 boekverkope.
Ek het een keer lank gelede in ’n koffiewinkel gesit toe ’n man ’n boek aan my verkwansel het
Spatseltjies onthou was ’n self gepubliseerde boek deur ’n plaaslike skrywer Peet Scholtz. Ek het steeds die boek. Elkeen wat ’n goeie boek van begin tot einde geskryf het verdien respek. Ongelukkig is daar steeds mense en ook winkels wat neersien op skrywers en boeke wat nie deur die tradisionele uitgewers gepubliseer is nie. Leeskringe wil meestal ook net boeke lees van reeds bekende skrywers deur gerekende tradisionele uitgewers.
Die werklikheid is dat die mark in Suid-Afrika eintlik klein is.
Hier sukkel selfs groot name in die publieke sfeer om bv. ’n biografie deur ’n tradisionele uitgewer te publiseer teenoor Amerika waar hulle bekendes duisende of selfs miljoene eksemplare verkoop saam met optredes op TV, Radio en boek teken optredes wat dikwels groot skares trek. Daar is tans net 3 skrywers in Suid-Afrika wat ’n miljoen of meer boeke verkoop het in hulle hele leeftyd.
Ena Murray – oorlede
Daleen Matthee – oorlede
Deon Meyer – steeds met ons
Dit is dan in ’n mate te verstane waarom tradisionele uitgewers in Suid Afria so uitsoekerig is. Boeke is duur om te druk en dus is daar net ’n beperkte mark vir nuwe skrywers en hulle boeke wat dit frustrerend maak vir ’n nuwe skrywer.
Self publisering vs Tradisionele uitgewers
Dit is ongelukkig so dat daar steeds ’n stigma kleef aan Self publisering. Dit word gesien as minderwaardige skrywers en boeke. Self publisering kan duur wees om mee te begin en die skrywer het baie ekstra verantwoordelikhede om te sorg dat die boek van uitstaande gehalte is bv. bemarking, illustrasies, proeflees ens. Winkels is dikwels lugtig om self publikasie boeke op die rak te sit. Deesdae is daar wel ’n aantal self publikasie uitgewers wat skrywers bystaan met hierdie take en waar skrywers nie so geïsoleerd hoef te sukkel nie. Die wagtyd vir ’n boek om te verskyn is ook drasties minder en die skrywer het meer kreatiewe vryheid.
Alhoewel skrywers wat self publiseer se aanvanklike uitset kostes uitdagend kan wees is die netto inkomste baie hoër as die van skrywers wat deur tradisionele uitgewers publiseer.
Daarteenoor word ’n skrywer se status dadelik verhoog wanneer ’n boek deur ’n tradisionele uitgewer verskyn. Hulle hanteer alles sonder dat daar kostes vir die skrywer is. Die skrywer wat egter gelukkig is om weg te stap met ’n kontrak by ’n tradisionele uitgewer het die voordeel dat alles namens hom of haar gedoen word – boek bekendstellings, TV en radio-onderhoude word georganiseer en die skrywer moet net opdaag en praat oor die boek. Die skrywer het egter min insae in die boek se ontwerp, uitleg en bemarking. Selfs goeie skrywers haal dikwels nie die paal by tradisionele uitgewers nie aangesien daar duisende manuskrip voorleggings in ’n bepaalde boekjaar gedoen word en slegs enkeles word gekeur vir publikasie. Die onbekende skrywer ding ook mee met die reeds gevestigde skrywer en natuurlik is die lang tydperk tot publikasie ’n groot uitdaging.
Daar is deesdae baie moontlikhede vir skrywers
Vir die skrywer wat net wil neerskryf wat elke dag gebeur kan hy dit per hand in ’n dagboek neerskryf of op die rekenaar tik en stoor.
- Skryfterapie is nog ’n wonderlike manier om uiting aan jou gevoelens te gee en traumatiese gebeure te verwerk.
- Begin jou eie webblad, YouToube of ander sosiale media oor jouself of stokperdjie waar jy kan skryf en sê wat jy ook al wil en doen dit in jou eie styl.
- Stuur boek manuskripte aan tradisionele uitgewers en waag ’n kans.
- Skryf ’n boek en publiseer dit self van jou rekenaar af (slegs digitaal of albei) of stuur dit aan ’n self publikasie uitgewer wat ondersteuning aan die skrywer bied.
- ’n Ander moontlikheid is om vryskut te skryf en artikels na koerante en tydskrifte te stuur.
- Lynette Strydom skryf al jare briewe aan tydskrifte en koerante – sommer vir die lekkerte en oor sy daarvan hou om briewe te skryf. Sy het haar eerste boek Briewe uit my hart deur Sela uitgegee. Dit bevat ’n versameling van die briewe wat sy in die loop van die jare ingestuur het.
Artikels oor skrywers, boeke en publisering
Dis waarvoor lesers betaal
Self-publishing a book: 25 things you need to know
Hoe publiseer jy jou boek?
Skryf jou eie boek met Fanie Viljoen
Almal wil ’n boek skryf. Daar is egter baie verskillende maniere om uiting te gee aan jou skryf passie en wat bevredigend kan wees en voel vir jou spesifieke behoeftes. Lekker skryf!
Leave a comment - Please no racism, hate speech or explicit language. Thank you